‘n Gesonde kultuur is ‘n kultuur van dankbaarheid
top of page

‘n Gesonde kultuur is ‘n kultuur van dankbaarheid


Min leiers, veral besigheidsleiers, verstaan wat dankbaarheid met goeie leierskap te make het, maar dit het. Laat ek verduidelik.


Ons leef in ‘n denksisteem van meer. Almal wil meer hê, afgesien van hoeveel hulle alreeds het. Dis ook so in elke besigheid. Omdat ons in ‘n groeiende ekonomie leef, moet elke organisasie se wins elke jaar groei en die produksie en verkope moet verhoog. Dit kan lei tot ‘n kultuur waar almal hulleself doodwerk, maar nooit voel hulle haal die paal nie. Elke jaar word die doelwitte maar net weer verhoog. So ‘n kultuur kan later toksies raak, terwyl die meeste mense ondergewaardeer voel. Gevolglik neem die positiwiteit en vreugde in so ‘n maatskappy af en negatiwiteit begin groei. Wanneer mense nie gewaardeer voel nie, begin ‘n maatskappy sy personeelspan verontmenslik.


Die teenvoeter vir so ‘n toksiese kultuur is die beginsel en gesindheid van dankbaarheid en tevredenheid. Die leier(s) is instrumenteel tot die kweek van dankbaarheid vir die mense asook dankbaarheid vir resultate. Dankbaarheid is daardie gevoel wat ‘n leier kry, wanneer doelwitte bereik is. Die belangrike ding is om dit teenoor jou kollegas en werknemers uit te druk. Dis die gevoel van blydskap, wat iemand kry, oor waar hy in sy lewe is, vir die feit dat hy ‘n werk het en dat hy die voorreg het om tot ‘n groter prentjie as hyself te kan bydra. Navorsing toon al vir jare aan dat mense wat binne-in ‘n kultuur van dankbaarheid leef, ‘n groter mate van vervulling beleef, ‘n hoër selfbeeld het en dat hulle baie minder stres en uitbranding beleef! Tagtig persent van werknemers toon aan dat hulle bereid is om harder te werk, indien hulle ‘n baas het wat dankbaarheid en waardering uitspreek.


‘n Kultuur van dankbaarheid word geskep deur die praktyk (practice) van viering (celebration). Viering speel ‘n sleutelrol daarin om werknemers te behou, personeel se moraal te bou en hulle betrokke in die span te hou. Hoe beoefen ‘n gesonde leier viering binne-in ‘n gemeente of maatskappy? Hermann du Plessis noem in sy boek Lead with Intent, vier belangrike punte:


1. Vier mense eerste, dán resultate

Dit beteken dat die dankbaarheid, wat uitgedruk word, in die eerste plek bestaan jeens die persoon self en nie wat hy vir die maatskappy bereik het nie. In een organisasie word elke individu op hulle verjaarsdag gevier. Daar word koffie en eetgoed gereël en waardering word uitgespreek vir die persoon se menswees, nie net sy werkprestasies nie. Patrone kan ook geskep word, waar leiers hulle personeel “uitvang” dat hulle goeie goed doen en presteer. Wanneer ‘n leier dan ‘n positiewe daad van ‘n persoon teëkom, gee dadelik erkenning aan die persoon en spreek jou waardering uit.


2. Sê dankie

Dis belangrik om vir mense op individuele vlak sowel as kollektief dankie te sê. Een maklike manier is met ‘n handgeskrewe nota of briefie. Hou dit kort, opreg en noem die spesifieke dinge, waarvoor jy dankbaar is. Baie werknemers het al aangetoon dat sulke notas of kaartjies vir hulle meer waardevol as ‘n groot bonus is.


3. Begin byeenkomste en vergaderings deur dankbaarheid uit te druk

Verskeie suksesvolle leiers open hulle vergaderings deur elke persoon wat bywoon die volgende vraag by homself te laat beantwoord: “Waarvoor is ek op hierdie oomblik baie dankbaar?” Hierdie praktyk bring dikwels ‘n algehele gevoel van tevredenheid in ‘n kamer vol ontevredenheid.


4. Begin ‘n dankbaarheidsbord by die kantoor

Hierdie is ‘n plek en geleentheid vir enige personeellid om neer te skryf waarvoor hulle dankbaar is. Hulle kan dit enige tyd doen, wanneer dit hulle pas of wanneer hulle veilig voel om dit te doen. Hulle kan hulle name by die nota skryf of hulle kan dit anoniem doen. So ‘n kennisgewingbord toon die innerlike toestand van die span aan en kan ook lei tot ‘n diep gevoel van kollektiewe positiwiteit en gemeenskaplikheid.


Goeie leiers versorg hulle eie personeel of span met wie hulle saamwerk. Indien hierdie kultuur van viering belangrik vir betaalde amptenare is, is dit nóg belangriker vir omgewings, waar daar met vrywilligers gewerk word. Hierdie is natuurlik organisasies soos nie-winsgewende maatskappye of kerke. Viering is ‘n manier om mense lief te hê. Dis ‘n manier om vir mense te sê dat die leier omgee. Die lewe is hard en mense is moeg en moedeloos. Die praktyk van viering kan mense se liggie van hoop en betekenis laat opvlam en hulle laat voel hulle word geag.


As die leier omgee, gee God ook dalk om.

bottom of page