My manifes vir Korona-tyd
top of page

My manifes vir Korona-tyd


Bo en behalwe die ekerk se weeklikse Goeie Nuus, het Stephan Joubert ook al vir meer as 16 jaar ’n kolom genaamd Goeie Nuus in die dagblad Beeld vir vyf dae per week. Hy deel sy Korona-manifes wat verskyn het in Beeld, hier ook.
My manifes vir Korona-tyd
  1. Die Here is my Herder. Hy lei my deur elke donker vallei en langs elke groen weiveld.

  2. Ek laai graag ander se laste op my skouers. Dit gaan nie net oor myself in hierdie tyd nie. Omdat Christus my dra, is daar spasie vir ander mense in my lewe. Ek luister, bid en help graag waar ek kan.

  3. Ek is ’n connoisseur of ’n fynkenner van goeie nuus. Ek weier om ’n slaafse oorverteller van goor gerugte en afbrekende verhale te wees. Daar’s oorgenoeg mense rondom my wat dit doen. Ek fokus eerder op God se goedheid en op al die goeie dinge wat mense steeds doen.

  4. Ek verwag nie by voorbaat die slegste van ander nie. Nooit verlustig ek my daarin as owerhede, skole, kerke en ander rondom my sukkel om die regte koers te vind nie.

  5. Ek vergelyk nie my eie omstandighede met ander mense s’n nie. Nooit sê ek nie dit kon erger gewees het nie. Dit is erg genoeg… en dit is goed genoeg!

  6. Ek leef vrygewig. Ek deel uit dit wat ekself het.

  7. Ek maak vrede met die onseker tye en omstandighede waarin ek myself bevind. Ek weet dinge sal nie gou weer na normaal terugkeer nie. Dit is hoe dit is.

  8. Ek vind groter vreugde in eenvoud.

  9. Ek leef met eerbied teenoor God en respekvol teenoor mense.

  10. Ek weet ek het nie alles verloor nie. Die Here dra my. Hy dra al sy mense.

bottom of page