My lewe van seën
top of page

My lewe van seën


In 2020, terwyl die wêreld deur inperkings lamgelê was as gevolg van die Covid pandemie, het Kari Jobe, Cody Carnes en Elevation Worship met The Blessing vorendag gekom. Hierdie pragtige lied is gebaseer op die hoëpriesterlike seën in Numeri 6. Dit was (en is steeds) aangrypend om oor die radio en internet te luister na talle verskillende opnames van hierdie pragtige lied. So het musikante en sangers die wêreld oor in hulle eie taal hulle eie mense geseën.


Hierdie seën weerspieël natuurlik die seën, wat God oor Abram uitgespreek het:

Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak,

en jy moet tot ‘n seën wees. – Genesis 12:2 AFR83


Vandag is ek as gelowige deel van Abraham se nageslag en het ek ook die verantwoordelikheid om tot seën te wees daar waar ek woon of werk of ontspan. Dit kan ek in die eerste instansie doen deur die Here te vertrou om my met Sy Gees te vervul sodat ek Sy krag, liefde en selfbeheersing in elk van my alledaagse verhoudings kan uitleef. Natuurlik kan ek ander ook seën deur vir hulle te bid.


‘n Pragtige voorbeeld van ‘n lewe van seën is George McCluskey, wat begin het om daagliks vir ‘n uur lank vir sy kinders en later ook vir sy kleinkinders en agterkleinkinders te bid, dat elkeen van hulle Christus-volgelinge sal wees. Elk van sy dogters het met ’n predikant getrou en die seuns het predikante geword. Sy eerste twee agterkleinkinders het saam-saam universiteit toe gegaan, waar die een besluit het dat hy eerder in ‘n sielkunde rigting wil kwalifiseer. Hierdie jong man het sy doktorsgraad in sielkunde behaal en uiteindelik die stigter van Focus on the Family geword. Hierdie organisasie het wêreldwyd impak begin maak via radio, televisie en die verskeie boeke, wat Dobson geskryf het. So het McCluskey, ‘n doodgewone man, ‘n buitengewone seën die wêreld ingestuur.


So kan elkeen van ons vir ons biologiese en/of geestelike kinders bid dat die Here hulle in ‘n persoonlike verhouding met Hom sal lei en hulle lewe tot seën vir ander sal maak. Wie weet, dalk word my of jou kleinseun ‘n tweede James Dobson of Billy Graham!


bottom of page