My kompas vir 2023
top of page

My kompas vir 2023


Die eerste Petrusbrief bied lewensbelangrike padwysers vir ons as kinders van die Here oor hoe om vir Hom te leef in ’n nie-gelowige wêreld. Hier is ’n paar lewensbelangrike tekste, wat vanjaar as my eie kompas gaan dien (aangehaal uit: Die Nuwe Nuwe Testament):

1 Petrus 2:21: “Dit is julle roeping: Christus het vir julle gely. So het Hy vir julle ‘n voorbeeld gegee, sodat julle in Sy voetspore kan volg.”

In 2023 gaan ek in Jesus se voetspore volg. Ek gaan opnuut by Hom leer hoe om in liefde te leef. Ek gaan nooit kwaad met kwaad vergeld nie. Woede en haat gaan geen verblyfreg in my hart kry nie. Skerp woorde gaan nooit welkom op my tong wees nie.

1 Petrus 2:17:“Respekteer almal. Julle moet julle medegelowiges liefhê; julle moet vir God ontsag hê en die koning eer.”

In 2023 gaan ek aan ander in die Here se Naam goed doen.


1 Petrus 5:5: “Almal, sonder uitsondering, moet onderlinge nederigheid soos klere aan hulle lyf dra. Immers, God wil niks van mense weet wat dink hulle is belangriker as ander nie, maar Hy is baie genadig teenoor hulle, wat hulle regte plek ken.”

In 2023 gaan ek opkyk na oud en jonk. Ek gaan nooit dink ek is te belangrik om ander mense met deernis raak te sien nie. Ek gaan nederig wees.


1 Petrus 5:6-7: 6. “Wees daarom opreg nederig voor die kragtige God, sodat Hy julle op Sy tyd tot ‘n posisie van eer kan verhoog. Hy gee baie vir julle om. Gee daarom al julle angs en bekommernis vir Hom.”

In 2023 gaan ek nederig leef in die teenwoordigheid van God. Ek gaan al my bekommernisse by Hom neersit en Hom vertrou met my hele lewe. Ek gaan oopkop en sober leef. Ek gaan my nie deur elke nuwe wind van koers af laat waai nie. Ek gaan sterk staan in my geloof.

bottom of page