My God, my God waarom?
top of page

My God, my God waarom?


Musiek is deel van die lewe en van die dood. Daarom sing ons ook by begrafnisse. Maar Jesus sing selfs terwyl Hy besig is om dood te gaan. Meer korrek, Hy kreun die woorde van Psalm 22 uit daar aan die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” 'n Klaagpsalm weerklink daar by Golgota op die Seun van God se lippe, een van verlatenheid. Is Jesus regtig verlate daar? Ja en nee! Ja, want in sy sterwensuur voel Jesus al ons oortredings op sy eie skouers. Nee, want Jesus het Psalm 22 enduit geken, nie net een vers hiervan nie. Psalm 22 eindig juis met hoop. God gee nie op met sy mense nie. Nooit nie. Daarom kan Jesus hardop kla oor sy eie lydingspad wat Hom weerloos aan 'n kruis laat hang, maar Hy kan in dieselfde asem ook weet die dood het nie die laaste sê nie. God het die laaste sê! Sy Kind se verlatenheid sal binnekort oor en verby wees. Die prys is betaal. Die geveg is verby. Golgota eindig met 'n wenner - Jesus! Daar maak Hy alles nuut op God se front. Daarom is Jesus se laaste woorde: Tetelestai! Dit is volbring!

bottom of page