top of page
Writer's pictureSiegfried Louw

Mrs. Harris Goes to Paris (“Spoiler alert”)


In Mrs. Harris Goes to Paris (2022) is daar ʼn oomblik wanneer die fliek twee bekende landmerke in Frankryk vir ons wys. Die een is die Eiffel-toring, wat seker die bekendste konstruksie in Parys is. Die ander gebou is die Sacré Coeur, ʼn kerkgebou op een van die hoogste plekke in die stad.


Ek reken die regisseur van die fliek is baie doelbewus wanneer hy hierdie twee geboue deur slim beligting op ʼn spesifieke oomblik teenoor mekaar plaas. Hoekom sê ek so? Die Sacré Coeur is baie indrukwekkend met sy bekende wit gesteentes. In teenstelling met die hordes ander Gotiese geboue in die stad, word die Sacré Coeur egter soms deur die Franse as ʼn seer vinger beskou. Dit pas nie so mooi in by die res van die argitektuur nie, kla hulle.


In die storie is Ada Harris ʼn weduwee (gedurende die 1950’s) wat ander mense se huise skoon maak. Wanneer sy vir die eerste keer ʼn rok van Christian Dior gade slaan, besluit sy net daar om vir haar ook ʼn Dior-skepping aan te skaf. Sy vind allerhande maniere om genoeg geld bymekaar te skraap, sodat sy haar eie Dior kan besit. Oplaas bevind sy haar in Parys met genoeg geld in haar handsak om een te bestel. Ongelukkig loop sy haar egter vas: sy word nie juis gesien as iemand wat ʼn Dior werd is nie. Sy kom uit die verkeerde sosiale stand.


Ada word soos die Sacré Coeur behandel. Sy het ʼn rein hart, maar die hoër klas gril so ‘n bietjie vir haar eenvoudigheid. Sy staan soos ʼn seer vinger uit tussen al die rykes van die hoër stand. Die mense wat met haar te doene kry, word egter deur haar stomgeslaan. Sy is manjifiek, nes die Sacré Coeur.


Haar gesukkel om uiteindelik regmatig ʼn Dior-skepping te bekom, het my laat dink aan Paulus wat gelowiges nooi om onsself te beklee met Christus (Romeine 13:14), of om die eienskappe van Christus soos mooi klere aan te trek (Kolossense 3). Uiteindelik ontvang sy ʼn pragtige geskenk. Die beste van die beste. Haar hart stuur selfs die Dior-besigheid in ʼn ander rigting. Voorheen was dit net vir die elite beskore, maar nadat mense deur haar goedhartigheid geraak is, slaan die maatskappy ʼn ander rigting in: Hulle klere raak beskikbaar vir die gewone mense.


Die storie gryp ʼn mens se hart aan. Die lewe kan ons laat voel dat dit slegs die uitskieters en spesiale mense is wat ʼn mooi lewe kan hê. Mrs. Harris Goes to Paris herinner ons dat ʼn mooi lewe baie meer met jou hart te make het as met jou sosiale stand. Wanneer die mooiste rok by die gruwelikste persoon beland, help dit niks nie.


Die heel laaste sin van die fliek sê: “There is hope for all of us.” En dan kyk ons na die teëlvloer, oortrek met simboliese rooi kruise. Ek jubel oor Christus nie eksklusief is nie en omdat Hy ons harte rein maak, sodat ander hulle rigting kan verander.


(Kyk gerus uit vir Mrs. Harris Goes to Paris, wat vanaf 7 Oktober in Suid-Afrika vrygestel word.)

Comments


bottom of page