Moet nooit moeg word om te bid nie
top of page
  • Writer's pictureekerk

Moet nooit moeg word om te bid nie

deur Elmarie van der Westhuizen

Elmarie van der Westhuizen skryf in haar nuutste artikel vir ekerk oor die herinning wat 1 Tessalonisense 5:17 ons gee om nie op te hou bid nie.
Moet nooit moeg word om te bid nie
“Bid sonder ophou” (1 Tessalonisense 5:17 – 1953 vertaling)

George Müller (1805 - 1898) was as seun 'n dief en 'n leuenaar wat hom na sy bekering in Engeland as evangelis gevestig het. In Bristol sien hy en sy vrou die nood van weeskinders en vra die Here vir £1,000 en die regte mense om 'n weeshuis te begin. Binne vyf maande is dit voorsien.


Teen 1870 word meer as 2,000 kinders in vyf huise opgeneem. Deur al hierdie tye het Müller God slegs in gebed gevra om in hul behoeftes te voorsien, en hy het ook nie skuld gemaak nie, alhoewel die vyf huise meer as £100,000 gekos het om te bou. Müller het voortdurend gebid dat God die harte van donateurs sal aanraak om voorsiening te maak vir die weeskinders - £1,381,171 (ongeveer £113 miljoen in vandag se terme) teen die tyd van Müller se dood.


Müller het oor alles gebid en geglo dat elke gebed beantwoord sal word. By een geleentheid het hulle gebid vir ontbyt toe die kinders reeds aan tafel sit, hoewel daar niks te ete in die huis was nie. Toe hulle klaar gebid het, het die bakker aan die deur geklop met genoeg vars brood om almal te voed, en die melkman het vars melk geskenk omdat sy wa voor die weeshuis gebreek het. Hierdie ongevraagde kosskenkings wat net betyds gekom het, het sy geloof in God verder versterk.


Müller se geloof in God het dag vir dag gegroei en hy het ure aan daaglikse gebed en Bybellees deurgebring. Dit was inderdaad sy praktyk om in die latere jare vier keer per jaar die hele Bybel deur te lees. Hy het getuig dat hy geweet het van ten minste 50,000 gebede waarop hy 'n spesifieke antwoord ontvang het.


Tog is sy geloof ook getoets en het hy jare gebid voordat van sy gebede verhoor is. Hy het vir 5 vriende se bekering gebid en moes onderskeidelik 5, 10, 25 jaar wag voordat hulle die keuse vir Jesus gemaak het – die laaste vriend ‘n paar maande na Müller se dood.


Die lewe van George Müller en ander gebedstryders moedig my aan om te volhard in gebed. Om nie moed op te gee as my gebede nie dadelik verhoor word nie. Om stil op die Here te vertrou en te glo dat Hy in beheer is van my omstandighede en situasie. In die woorde van George Müller:

“God delights to increase the faith of His children. We ought, instead of wanting no trails before victory, no exercise for patience, to be willing to take them from God’s hands as a means. Trials, obstacles, difficulties and sometimes defeats are the very food of faith.”

Erkenning aan:

An Hour With George Müller: The Man Of Faith To Whom God Gave Millions

bottom of page