Moet ’n Christen nuus lees?
top of page

Moet ’n Christen nuus lees?


Die afgelope ruk hoor ek hoe al meer mense verklaar dat hulle nie meer nuus lees of kyk nie, want dit maak hulle net depressief, moedeloos en angstig. ʼn Predikant het selfs so ʼn ruk gelede gevra of ek hom sal inlig oor aktuele sake waaroor daar gepreek moet word, want hy lees nie meer nuus nie en weet nie mooi wat aangaan nie.


Hedendaagse aktuele nuus is genoeg om enigiemand in die donker tonnel van ellende te laat verdwyn. Die slagveld is tot oorlopens toe vol lyke, wat agtergelaat is deur die nagevolge van korrupsie, staatskaping, moord, transito-rooftogte, mishandeling van kinders, vrouens en bejaardes, oorlog en ander booshede. Die toekoms lyk bleek en herinner aan die profesie in Esegiël 7: “Ramp op ramp sal kom, gerug op gerug…”


Wíl ek nuus lees? Nee! Moet ek? As ek die antwoord behoorlik oorweeg, kan ek nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat ek op hoogte móét bly van aktuele sake nie. Hoe sal ek weet waarvoor en vir wie om met smeking en trane te bid, as ek nie nuus lees nie? Sal ek met oortuiging kan dankie sê as ek nie my eie bevoorregting teen ander se ellendige situasies kan opweeg nie? Of is ek tevrede om maar net vir myself en die mense naby aan my te bid of sommer net so in die algemeen vir die naam- en gesigloses, dié wat swaarkry?


Dit is handig om te onthou dat die wêreld ʼn massiewe, onbewerkte sendingveld is en dat Christene se missie moet wees om die sendingveld met groot ywer en dringendheid te bewerk. Tog sê Jesus Christus: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.” Waar is die arbeiders? Ek dink ʼn groot gedeelte verkies om soos vlytige erdwurmpies onder die oppervlakte te werk en ander staan soos volstruise met hul koppe in die sand en moedig die werkers aan.


Die wêreld bo die grond is nie altyd ʼn lekker plek nie. Dit is onveilig en dikwels boos, maar op die ou einde is dit net so belangrik soos die veilige, gemaklike wêreld onder die grond. Hoe kan ons ploeg, plant en water gee as ons nie self in die landerye werk nie? Enige boer sal weet dat ʼn goeie oes van meer as net die kwaliteit van die grond afhang. Die klimaat moet dopgehou word, plae moet beveg word, die saad moet op presies die regte tyd in die grond kom, die besproeiing moet in plek wees en kompos moet gegooi word.


As Christen kan ek nie my volle potensiaal bereik as ek nie deel word van die oplossing in die wêreld nie. Om deel te word van die oplossing, moet ek verstaan wat die probleem is. Om te verstaan wat die probleem is, moet ek weet wat in die wêreld aangaan. Christene kan en moet dus op hoogte bly van aktuele nuus en sake.


Doen dit in die skaduwee van Jesus Christus se gebed, wat Hy self vir sy kinders tot die Vader bid: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar.”

bottom of page