top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Moenie mense se ore pap praat nie


Stephan Joubert skryf in sy nuwe Goeie Nuus nuusbrief oor wat die Bybel ons leer oor minder te praat en meer te luister.
Moenie mense se ore pap praat nie

William Jennings Bryan (1860-1925) was ’n Amerikaanse politikus. Op ’n dag het sy ma na een van sy toesprake geluister. Na die tyd sê sy toe vir hom:

“You missed several good opportunities to sit down.”

Wyse woorde! Toe my kinders nog klein was het een van my dogters op 'n dag vir my gesê:

“Pappa preek my ore pap!”

Daardie een enkele sin het my diep laat nadink oor my preekstyl en my praatstyl. In Psalm 141:3 se woorde het dit my gedwing om elke dag ’n wag voor my mond aan te stel.


Deur die jare het ek geleer om by elke plek waar ek moet praat vir mense te vra hoe lank moet ek aan die woord wees. Dan respekteer ek die gehoor deur by hierdie tyd te hou wat aan my toegestaan is. In gesprekke probeer ek myself ook gedurig afvra of my woorde opbouend gaan wees, soos wat Spreuke my leer. Dan probeer ek om my woorde hierby aan te pas. Nee, ek kry dit nie aldag reg nie. Dwase, oorhaastige woorde glip gedurig nog oor my tong. Nogtans weet ek die Here verwag van my om my woorde met wysheid te bestuur.


Te veel mense kan nie ophou praat nie. As party mense 'n spreekbeurt het, dan kry jy hulle nie stil nie. Predikers is groot oortreders hier. Hulle gewilde verskoning is dat die Gees hulle lei, daarom hou hulle aan met praat. Ek onthou juis hoe een van my vriende op ’n keer by ’n saamtrek van geestelike leiers moes praat. Net voordat hy aan die beurt kom, het die leier van daardie kerklike groep opgestaan en gesê die Here het iets op sy hart geplaas wat hy net vinnig met die gehoor moet deel. Toe duur dit letterlik twee ure! Hierna moes my arme vriend praat met ’n flou geluisterde gehoor. Hy vertel egter vir my dat iemand na die tyd vir hom kom sê het:

“Ons leier-pastoor het wel gesê die Here het deur hom gepraat, maar jy was beter. Kort en kragtig!”

Leonard Sweet sê:

“To ‘sit down’ can be as powerful as to ‘stand up.’"

Ons is nie veronderstel om mense se ore pap te praat nie. Ons dwing nie ons opinies op ander af nie, ook al meen ons dit kom van die Here af. In 1 Korintiërs 14 sê Paulus juis 'n paar keer vir mense om stil te bly tydens samekomste van gelowiges. Ons hoef nie mekaar se ore gedurig aan te val met ons ellelange opinies nie. Die Here het vir ons twee ore gegee, en een mond. Ons moet dit op hierdie manier gebruik. Ons moet twee keer soveel luister as wat ons praat. Ons woorde moet soos fyn silwer wees, nie soos druppende water op ’n sinkdak nie. Ons hoef nie ’n mening oor alles te hê nie. Ons hoef nie met almal te verskil, of elke keer die laaste sê te hê nie.

Luister beter, praat beter! Die Here verwag dit van ons.

Comments


bottom of page