Moenie dreig om dankbaar te wees nie. Doen dit net!
top of page

Moenie dreig om dankbaar te wees nie. Doen dit net!


Almal praat daaroor as ‘n leraar ophou glo, maar niemand prys die Here, wanneer derduisende leraars aanhou glo nie. Almal praat daaroor wanneer een kerklike skynheilig is, maar niemand is bly dat die meeste gelowiges opreg leef nie. Dit lyk my slegte nuus kry selfs al in die kerk die oorhand oor goeie nuus. Keer asseblief dat so iets met jou gebeur. Hoe?


  • Verskuif jou blik elke dag weg vanaf al daardie dinge, wat kerklike en die res van die mensdom so irriteer, na alles, wat reg is op God se front. Kies om elke dag raak te sien hoe die Here agter die skerms én voor die skerms aan die werk is. Dan sal jy agterkom Hy is steeds op tienduisend plekke aanwesig. Hy is steeds volspoed besig om mense te vorm na Sy beeld.

  • Tel jou seëninge. Doen dit elke dag. Moenie gedurig agter die res aansê: “Ons moet meer dankbaar wees” of: “Ons moet ons seëninge tel” nie. Doen dit net. Moenie een aand gaan slaap sonder dat jy in detail vir die Here dankie gesê het vir daardie dag se guns en goedheid nie. Moenie net dreig nie. Tel jou seëninge. Leef daagliks dankbaar.

  • Praat gedurig oor die goeie nuus, wat jyself ervaar en wat jy ook rondom jou raaksien. Onderbreek al die klaendes se sieldodende gesprekke met hierdie goeie nuus. Open al die blindes se oë.

  • Skakel elke dag jou geestelike “daytime running lights” aan. Jesus leer ons in Matteus 5:16 dat ons ons lig so moet laat skyn dat ander mense die goeie dinge raaksien wat ons doen. Dan sal hulle vir mekaar vertel hoe wonderlik die Here is. Doen dit voltyds in die Here se Naam. Deel jou kos, tyd, klere, geld en liefde met ander. Maak elke dag spasie op jou skouers vir iemand se laste. Dan sal die Here verheerlik word. Dan sal jy vreugdevol-gelowig leef te midde van die beswaardes.


bottom of page