Moenie die Here se vrede opoffer vir enigiets of enigiemand nie
top of page

Moenie die Here se vrede opoffer vir enigiets of enigiemand nie


Die skrywer, Paul Coelho, sê: If it costs you your peace, it’s too expensive. Paulus het lank gelede presies dieselfde in 1 Korintiërs 7:15 geskryf, toe hy oor die huwelik gepraat het. Hy het by name gesê dat God ons geroep het om in Sy vrede te leef. Wanneer hierdie vrede prysgegee word, is die gevolge altyd katastrofies. Dan verander huwelike in slagvelde. Dieselfde gebeur in alle ander verhoudings, waarbinne ons onsself bevind.

Om blindelings in enige verhouding in te storm sonder om goed hieroor na te dink, of sonder om vooraf na goeie raad te luister, is dwaas. Om die Here se leiding in sulke tye te ignoreer, kos mense baie duur. Dit kos niks minder as sy eie vrede nie, soos wat baie al ervaar het, nadat hulle slegte keuses gemaak het. Baie het hulle beginsels vir rykdom opgeoffer. Hulle het hulle norme op die spel geplaas vir vinnige sakegeleenthede, of vir oorhaastige liefdesverhoudings. Moenie dat so-iets jou vanjaar oorkom nie. Die Here het jou geroep om in vrede met Hom te leef. Moenie Sy vrede opoffer vir enigiets of enigiemand nie. Laat toe dat God se vrede oor jou hart en oor jou verstand waghou. Laat dit jou teen dwaasheid en sonde bewaar. Laat dit jou veilige vesting in die midde van elke storm wees. Dan sal jy stormbestand wees. Dan sal jy nooit van die goeie pad van die Here wegdwaal nie.

bottom of page