Mislukte planne – hoe hanteer ek dit?
top of page

Mislukte planne – hoe hanteer ek dit?


In haar nuwe artikel skryf Elmarie van der Westhuizen oor hoe ons mislukte planne kan hanteer.
Mislukte planne – hoe hanteer ek dit?

6.Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. 7. Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie.” (Handelinge16:6,7) AFR83


Dit is menslik gesproke moeilik om te verstaan hoekom Paulus en Timoteus verhinder is om die woord in Asië te verkondig. Die uitdra van die evangelie is tog belangrik, maar tog het die Heilige Gees hulle nie toegelaat om verder te reis nie!


Alhoewel nie almal van ons met dramatiese besluite gekonfronteer word nie, het ons wel dinge wat nie uitwerk soos dit "veronderstel" was nie. Dalk “moes ek al swanger gewees het”, “my huis moes al verkoop gewees het”, “ek moes al teen hierdie tyd ‘n gemakliker leefstyl gehad het”. So moet ons die gevolglike frustasie en teleurstelling verwerk.


Ons planne werk ook nie altyd uit soos ons beplan nie. Selfs Koning Dawid moes sy edele planne om ‘n tempel vir die Here te bou, laat vaar.


Ons verstaan nie altyd waarom planne misluk en nie uitwerk nie en in baie gevalle is daar nie ‘n tweede kans nie. By God is die kanse egter ontelbaar. Hy verseker ons van Sy liefde, tel ons op en gee ons nuwe krag. Só getuig ‘n sakevriend, wat 6 jaar gelede sy besigheid verloor het a.g.v. veranderde regeringsregulasies. Hy moes sy teleurstelling en pynlike verlies saam met die Here deurwerk en kon later ‘n ander besigheid opbou. As hy vandag terugkyk, besef hy dat sy vorige besigheid nie Covid-bestand sou wees nie. Hy het 6 jaar gehad, waarin hy ‘n nuwe sterk besigheid kon vestig. Hy beskou dit as ‘n deur, wat destyds toegegaan het sodat hy vandag Covid kon oorleef.


Ons kry nie altyd antwoorde op ons vrae oor mislukte planne, soos Dawid en ons sakevriend nie en moet dalk vir jare lank met die gevolge van ons mislukte planne saamleef. God bring egter altyd heling en verseker ons van Sy liefde en Sy saamdra aan ons teleurstelling en swaarkry. Ons kan berusting vind in die wete dat Hy in beheer is, dat Sy gedagtes en weë hoër is as ons s’n (Jesaja 55:9). En ons moet onthou dat ons ‘n liefdevolle Vader het wat, soos vir Sy destydse volk in ballingskap, maar ook vir Sy kinders vandag, sê: “Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here, “ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.” (Jeremia 29:11 NLV)


Met gedeeltelike erkenning aan Jesse Carey:When Life Doesn’t Go as Planned”

bottom of page