Mirjam se lied
top of page

Mirjam se lied


Marietjie Joubert skryf in haar nuutste My Lewe oor Mirjam se lied
Mirjam se lied

Op verskeie plekke in die Bybel lees ons van vroue, wat die Here se lof besing. Ons lees van die lofsang van Maria, nadat sy gehoor het sy is swanger met die seun van God. Ons lees van die lofsang van Hanna, nadat sy Samuel na die tempel toe gebring het om saam met Eli agter te bly. Hanna het hom afgebid van die Here en uit dankbaarheid kom offer by die tempel.


Mirjam was die suster van Aäron. Hy was weer een van Moses se regterhande. Die volk het sopas die wonderwerk beleef, waar hulle gered is uit die hande van die Egiptenare. Al die soldate het gesterf. Die volk het hulle sien lê op die strand, almal dood. God het, soos Hy belowe het, vir hulle geveg.


Moses en die hele volk het ‘n loflied aan die Here gesing uit dankbaarheid vir hulle redding. Hierna het Mirjam haar tamboeryn geneem en al die vroue het agter haar met hulle tamboeryne aangeloop en gesing en gedans. Hiermee saam het hulle ‘n loflied vir die Here gesing. Hulle het Hom geloof vir die redding van hulle volk.


Die Here veg gereeld vir jou in situasies. Hy onderneem jou en jou gesin. Hoeveel keer is ons as mammas nie op ons knieë vir ons kinders nie. Ons smeek gesondheid, veiligheid of genade vir ons kinders van God af. Ons bid om hulp vir ons werk of omstandighede. Ons bid vir vriende of familie met Covid.


Sing jy ‘n loflied, nadat jy deur God onderneem is? Loof jy die Here vir Sy goedheid in jou lewe? Wanneer laas het jy erken dat die Here wonderlike dinge in jou lewe doen?


Dink ‘n bietjie vandag na oor al die goeie dinge in jou lewe. Herroep God se genade en herleef God se wonderwerke oor jou kinders of man. Dink aan elke keer, wat hulle siek was en gesond geword het. Skryf vandag vir God ‘n brief, waarin jy alles neerskryf wat die Here die afgelope week, maand en jaar vir jou gedoen het.


Sing vandag jou loflied om dankie te sê vir al Sy goedheid en genade vir jou en jou gesin. Halleluja, God is Almagtig, Heilig. Hy was en is goed vir my!

bottom of page