top of page

Maak tyd vir stilte in ‘n besige, raserige wêreld


Op ‘n yskoue wintersoggend voor ek moet opstaan vir werk, dink ek aan baie verskonings om ‘n bietjie later in my warm bed te lê. Dan bestee ek ook soms minder tyd aan stiltetyd en soms kom ek glad nie daarby uit nie. Dit is opvallend hoe dit dan vir my voel asof alles in die dag skeefloop en ek mis die vreugde en vrede, wat ek ondervind, nadat ek genoeg tyd saam met die Here spandeer het.


“Learning to be quiet before the Lord is one of the greatest challenges we face in our quest to enter in an experience of true intimacy with Him,”

sê James Goll. Baie van ons het besige lewens. Ons staan vroeg op, jaag werk toe, jaag huis toe, verrig ‘n paar huistake en val doodmoeg in die bed. By sommige van ons versteur die geraas van die TV, radio of sosiale verpligtinge ons alleentyd met God.


Om alleentyd met God deur te bring in ‘n gejaagde en raserige wêreld verg doelgerigtheid en selfdissipline. In die Bybel lees ons ‘n paar keer hoe Jesus homself afgesonder het om te gaan bid. Na die vermeerdering van die brode lees ons in Matteus 22:23: “Daana het Hy teen die berg uitgeklim om te gaan bid.” Voordat Jesus gevange geneem is, was Hy en Sy dissipels in die tuin van Getsemane. In Matteus 26:36 lees ons: “Hy sê: ‘Sit julle hier, terwyl ek daar anderkant gaan bid.” Dit is vir my opvallend dat Jesus daarvan gehou het om eenkant en in stilte met Sy Vader te praat.


Dikwels probeer ons om ons laksheid om tyd met die Here deur te bring, regverdig deur besigheid (busyness) en moegheid voor te hou. Dit is egter verbasend hoe verfris en gemotiveerd ‘n mens voel nadat jy ‘n tydjie alleen saam met God deurgebring het, al moes jy ‘n paar minute vroeër opstaan. Soms is dit nodig om jou eie behoeftes en begeertes op te offer om kwaliteit tyd met God te spandeer. In Psalm 5:4 lees ons dat Dawid sy dag met gebed begin het: “Here, in die oggend sal U my stem hoor. Soggens bring ek my versoeke vol verwagting na U toe.” As jy ‘n aandmens is, wat eerder saans ‘n tydjie kan afstaan, skakel daardie TV of rekenaar af en maak die Bybel oop. As jy in die erge verkeer op pad werk toe ry, is daar hope tyd om jou hart oop te maak voor die Here.


Terwyl jy tyd in gebed en met die Woord deurbring, leer jy God beter ken en jou verhouding met God versterk. Vir enige verhouding moet ‘n mens tyd maak as jy wil hê dit moet floreer. Jou verhouding met God sal net floreer as jy doelgerig tyd vir Hom maak.

Comments


bottom of page