Maak ‘n verskil van een
top of page

Maak ‘n verskil van een


In sy nuutste artikel, skryf Stephan Joubert oor die verskil wat een persoon kan maak met die krag van die Heilige Gees.
Maak ‘n verskil van een

Vandag is alweer op ons. Nee, dit het nie uit die bloute op ons afgekom nie. Ons het dit eintlik lankal sien aankom - gister reeds. Gaan dit ‘n opwindende dag wees? Gaan jy vandag die hele dag lank ‘n lewende verskil van een wees, soos Petrus en die ander apostels voor die Joodse Raad? Gaan jy in die Naam van die Here as ‘n een-man-weermag of ‘n een-vrou-weermag aanmeld? 

Dis jou keuse hoe jy vandag gaan leef. Kies reg. Kies wys. Vra die Gees om jou te vervul voordat jy die dag binnestorm. Vra Hom ook deur die loop van die dag om sy teenwoordigheid in jou lewe bo jou eie wil te laat seëvier. Bly in kontak met Hom. Laat Hy aan die stuur van sake staan, nie jy nie. Dan sal jy saam met Petrus regop staan.

Onthou, vandag het 24 ure. Niemand kon dit nog regkry om een uur by elke dag te steel nie. Koop al vandag se beskikbare leeftyd uit. Geleenthede kom soms op die mees onverwagse maniere oor jou pad. Vra die Here om jou vandag sensitief te maak om dit raak te sien en dit aan te gryp. Bid dat die Gees aan jou die onderskeidingsvermoë sal gee om te weet by wie se lewens jy langer moet vertoef, vir wie jy meer daadwerklik moet bid en waar jy nog meer hulp moet verleen. 

Gebed:

Leer my om die tyd uit te koop tot eer van u Naam, Heer. Amen.

bottom of page