top of page

Luister na die eggo’s van jou woorde


In sy nuutste artikel help Stephan Joubert ons om te luister na die eggo’s van ons woorde
Luister na die eggo’s van jou woorde

Het jy al in ‘n kloof gestaan en geluister na die eggo van jou eie woorde? Dit laat my net besef wat die effek van my woorde is. Sodra dit my lippe verlaat, eggo my woorde in ander se ore. My woorde het oneindige moontlikhede. Ek kan kies, soos die dwaas na wie Spreuke 12:18 verwys, om my woorde as messteke te gebruik om ander mense se lewe vol gate te maak, presies soos wat die Korintiërs aangevang het deur mekaar voor die hof te daag. Of ek kan kies, soos die wyse, om my woorde as medisyne te gebruik om mense, wat seer is, gesond te praat.

Goeie taal bou ander se lewens op. Goeie woorde is kosbaar. Dit rig mense op. Dit maak hulle heel. Goeie taal bemoedig wanneer ander moedeloos is. Dis woorde wat hoop dra, wanneer ander op moedverloor se vlakte uitkamp. Dis woorde wat rigting gee, as ander verdwaal het. Dis woorde, wat vrees verdryf, as ander vasgevang is in onsekerheid. Dis woorde, wat vensters op die Gees se nuwe werke oopmaak, wanneer die wêreld ‘n gevaarlike plek geword het.

Hoe klink die eggo van jou stem? Genees dit ander se seer? Doop jou stem opnuut in die Heer se Woord. Laat sy Gees nuwe woorde op jou lippe laai. Gee daardie woorde dan haastig weg. Versprei dit kwistig aan almal binne hoorafstand. Die eggo’s sal lewensveranderend wees.

Gebed

Heer laat U Gees my woorde vandag in genesende medisyne verander. Amen.


Comments


bottom of page