Littekens in ons geloofslewe wys dat ons sterker is…
top of page

Littekens in ons geloofslewe wys dat ons sterker is…


Die nuutste Goeie Nuus deur Stephan Joubert "Littekens in ons geloofslewe wys dat ons sterker is…"
Littekens in ons geloofslewe wys dat ons sterker is…

Daar is ‘n verskil tussen ‘n wond en ‘n litteken. ‘n Wond vertel van vars pyn. Dit vertel van seerkry, wat onlangs gebeur het. Dit vertel van seerkry wat steeds pynlik is. Littekens vertel van wonde, wat reeds genees het. Dit vertel dat ons groot pyn oorleef het en dat ons nou sterker is. Littekens is immers van die sterkste weefsel in ons liggaam. Dit herinner my ook aan Jesus. Die boek Openbaring ken Hom juis as die Lam, wat geslag is. Met ander woorde, Hy dra steeds in die hemel die littekens van Sy geveg aan die kruis. In ons plek en ook ter wille van ons, het Hy aan die kruis gely. Aan die kruis was Hy vol wonde. Aan die kruis het Hy gesterf. Maar die wonde van die kruis het nou Sy littekens geword, want Jesus het die grootste geveg ooit gewen. Hy het opgestaan uit die dood. Hy leef!


In die hemel dra Jesus steeds die littekens van sy oorwinning. Daar word Hy deur die hemelse skares aanbid as die Lam, wat geslag is, en wat ons almal losgekoop het, soos wat Openbaring 5 vertel. Christus se geveg en sy triomf is nou ook ons oorwinning. Daarom weet ons dat elke wond, wat die lewe ons toedien, ook kan genees. Ons is nie swaar verwondes wat lewenslank wag op behandeling nie. Ons ken die Here as die Een wat langs ons buk en wat ons weer optel, soos wat Psalm 37:23-24 vertel. Ons Here is ons Geneesheer. Hy bring genesing vir ons seerkry. Ons moet Hom net toelaat om ons wonde te verbind. Anders, as ons op ons eie deur die lewe probeer voortstrompel, is ons later opgeskeep met septiese wonde. Dan mis ons die genesende krag van die Heilige Gees. Hy verander al wonde in littekens, wat getuig dat ons sterker geword het in ons Heer.

bottom of page