• Stephan Joubert

Ligloop vir vals vryhede


In sy nuwe Heilige Gees artikel skryf Stephan Joubert oor hoe ons kan ligloop vir vals vryhede
Ligloop vir vals vryhede

Lees 1 Korintiërs 6:12

Die Gees het ons vrygemaak. Ons is lankal nie meer die mense, wat ons vroeër was nie. Gister se gemors is vir goed verby. Vandag is hier, die Here se vandag. Maar dit beteken nie ons het die vryheid om te doen wat ons wil nie. Allermins. Ook het ons nie die vryheid om ons nou besig te hou met beuselagtighede nie. Daarom kan ons nie, soos sommige Korintiërs, onsself troos met ‘n valse gerustheid dat alles nou wettig is vir ons nie. Want, sê Paulus, nie alles is noodwendig nuttig nie. Omdat ons vry is, beteken dit nie ons moet ons tyd mors nie.

Ek weet van te veel Christene wat hulle lewens ophou met minder belangrike dinge. Hulle leef van vergadering tot vergadering en van die een beplanningsessie na die ander. Hulle dreig net die heeltyd dat hulle nog eendag vir die Here groot dinge gaan doen, maar hulle doen dit nooit nie. Op die oog af lyk dit, waarmee hulle hulleself besig hou, na nuttige dinge, maar helaas is daar weinig geestelike vrug op hul werk. Moenie in hierdie strik trap nie. Vra jouself elke keer af of dit, wat jy doen, regtig bydra tot die koms van God se koninkryk in die lewens van ander. As die antwoord hierop nee is, laat staan dan daardie nuttelose dinge wat jy doen.

Gebed

Leer my om my dae so te tel dat ek U hemelse wysheid sal bekom om elke dag vrugbaar te werk in U wingerd, Heer Jesus. Amen.