Ligloop vir stilstaan
top of page

Ligloop vir stilstaan


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Heilige Gees artikel hoe jy die Gees jou begerig kan maak om só te leef dat jou lewe vir God soos ‘n aangename geur is.
Ligloop vir stilstaan

Wees elke dag op die regte pad, op God s’n. Laat die Gees jou begerig maak om só te leef dat jou lewe vir God soos ‘n aangename geur is. Leef in die Lig. Plaas jou hand in Syne. As jy dit nie daagliks doen en voluit saam met Hom stap nie, dan raak jy ‘n dag op ‘n slag agter. As jy net aan jou eie oorvol program aandag gee en nou en dan afskeeptyd vir God opsy sit, dan moet jy nie verbaas wees dat jy geestelik uitgeput raak nie. Of dat jy ‘n geestelike verkeersknoop op die hoofweg van geloof veroorsaak nie. Dit gebeur omdat jy tot stilstand gekom het, toe jy eintlik moes beweeg het. Kom asseblief dadelik in pas met God.


Nee, dis nie genoeg om net op die regte pad te wees nie. Stap in die Here se rigting deur jouself elke dag doelbewus af te vra wat tot Sy eer is en wat nie. En wat sy hart sal blymaak. Sien elke mens op die pad as iemand, wat jy met Jesus se liefde moet dien. Nee, moenie hulle as blote objekte behandel nie. Sien hulle raak as mense in eie reg met name, adresse en ‘n eie lewe. En wees Jesus se hande en voete in hulle midde. Dan proe hulle ook die vrug van die Gees se werk in jou lewe.


Gebed:

Heer, help my om geestelik te vorder deur vir U ‘n welbehaaglike offer te wees. Amen.

bottom of page