top of page

Liefdelose woorde maak ʼn oorverdowende geraas


Simbale van verskillende groottes (daar is meer as tien soorte) speel ʼn belangrike rol in ʼn simfonie-uitvoering, veral om “groot oomblikke” in die musiek te beklemtoon. Dink maar aan Friedrich Schiller se aangrypende lied, “An die Freude” of “Ode to joy”, wat deur Beethoven, as deel van sy negende simfonie, getoonset is. Ons almal ken die lied as “Praat ek mense-, eng’letale”, ’n teks gebaseer op 1 Korintiërs 13. Beethoven wend die simbale aan om die grootheid van en klimatiese oomblikke in die komposisie te beklemtoon en dit is simbolies van die feestelike en triomfantlike aard van die lied.


Dink jou nou slegs die klanke van die simbale, sonder die ander musiekinstrumente en koorsang en met Paulus se metafoor in 1 Korintiërs 13 in gedagte, in: “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ʼn stuk klinkende metaal, ʼn galmende simbaal geword.”


Woorde, of dit nou gesê of geskryf word, kan kwets en sosiale media het dit soveel makliker gemaak om die galmende simbale sonder musiek te slaan. Dit kom op woorde sonder liefde neer.


Hierdie aksies is verseker nie tot ongelowiges beperk nie. Inteendeel, Christene, wat veronderstel is om die liefde van Jesus Christus in elke aspek van hul lewens te inkorporeer, se woorde maak dikwels die seerste.


Hierdie kultuur van sweephoue met woorde uitdeel, is absoluut en sonder uitsondering teen die wil van God. Jakobus bevestig dat godsdiens waardeloos en bedrieglik is as die spreker nie sy tong in toom kan hou nie en dit maak sin: As enigiemand, met wie ek te doen kry, nie geliefd in my teenwoordigheid voel nie, word my aksies en woorde nie deur Christus onderskryf nie.


Die groot probleem hiermee is nie dat dit swak op my reflekteer nie, maar dat dit ʼn opvatting by die wêreld skep dat dit maar is hoe Christene optree. Hierdie idee word versterk deur die feit dat dit nie net hier en daar voorkom nie, maar heel dikwels gebeur, selfs onder publieke “Christelike” figure.


ʼn Onlangse voorbeeld: Hoe voel ʼn gemarginaliseerde groep mense as ʼn openbare figuur haar op sosiale media teen die groep uitspreek en dan selfs so ver gaan as om boikotprotes aan te wend om haar standpunt te bevestig? Dit gaan nie hier oor die onderwerp van die protes nie, maar oor die manier hoe dit oorgedra word en ook die liefdelose debat, of eerder bekgevegte, wat die uitlatings onder veral Christene uitlok.


Die vraag, wat gevra moet word, is of ʼn ander persoon God se liefde in my woorde en aksies ervaar, of is ek maar net nog ʼn galmende simbaal wat ʼn geraas in ʼn gebroke wêreld maak eerder as om lewe, vreugde en lig te bring?

Comments


bottom of page