• Stephan Joubert

Liefde juig as ander wen


Lees 1 Korintiërs13:4


Party mense is meer kere bly, wanneer slegte mense hulle verdiende loon kry, as wanneer die waarheid wen. Dis ‘n fout, want midde in al die seer van die lewe giet God elke dag ruim porsies goedheid oor Sy wêreld uit. Boonop maak die liefde van die Gees dat ons jubel en bly is, wanneer Sy liefde in en rondom ons wen. Kom ons maak ons oë ‘n slag hiervoor oop. Kom ons word fynkenners van God se oorstromende genade, nie van alles wat rondom ons verkeerd loop nie. Kom ons sien raak as iemand kies om ‘n stukkende verhouding te gaan herstel en sing dan ‘n loflied hieroor. Kom ons juig luidkeels as ‘n kerk ‘n verskil aan die lewenskwaliteit van ‘n paar siekes of armes maak. Kom ons raak kinderlik opgewonde as iemand God se hemelse skatte in ‘n doodgewone aardse saailand ontdek.


O ja, kom ons bedank ook sommer vandag nog by daardie ou onnodig kritiserende brigade. Kom ons word weer fynkenners of connoiseurs van die nuuste hemelse genadefondse rondom ons. Want om te kla maak die wêreld g’n duit beter nie. Dit dra ook net mooi niks by tot die vorming van ‘n sterk Christelike karakter in ons binneste nie. Slegs wanneer ons lief het, groei ons geestelik. Die Here se soort blydskap verander ons in lewende musiekinstrumente tot eer van ons Hemelse Vader.


Gebed:

Ek jubel oor elke greintjie goedheid, wat U vandag in ons wêreld uitgiet, Here Jesus. Amen.