Liefde gebeur
top of page

Liefde gebeur



Het jy agtergekom dat die liefde, soos wat Paulus dit beskryf, nie ‘n klompie vroom emosies is nie. Dis ook nie soetsappige gevoelens nie. Nee, liefde is werkwoorde. Liefde, die Here se soort, word gedoen. Dit gebeur. Liefde wat van God se Gees afkomstig is, is selfloos. Dit is op ander mense gerig. Dis leeg van myself. Dit wil nie ontvang nie, maar weggee. Die Here se soort liefde wil nie inpalm nie, maar ander laat wen. Dit wil nie voor in die koor staan nie, maar daardie plek aan ander afstaan. Hierdie soort liefde huil as boosheid wen en dit dans van vreugde as dit wat reg is, triomfeer.


Die Here se liefde is lewensveranderend. Dit is genesing vir ‘n siek wêreld vol Godloosheid en goddeloosheid. Dit ruk onvergenoegde harte uit ons binneste en vervang dit met sagte diensknegharte. Dit vestig ‘n nuwe hemelse waardestelsel van respek en agting in ons binneste. Nou ja, wen die Here se liefde in jou? Wag, moenie te gou antwoord nie. Kan ek jou eggenoot, jou kinders, ouers en vriende eerder vra om namens jou te antwoord? Of jou tuinwerker, huiswerker en die kollegas by jou werk? Hulle sal veel beter as jyself weet of die Here se liefde in jou lewe aanwesig is. Sy liefde is immers ‘n werkwoord. Dit word daagliks gesien, gevoel, gehoor en ervaar ... of nie!


Gebed:

O Heer, ek bely my absolute liefdeloosheid voor U. Vergeef my. Maak my nou weer vol van Uself. Amen.

bottom of page