Lewende briewe
top of page

Lewende briewe


Lees 2 Korintiërs 3:3a


2 Korintiërs 3 is ‘n merkwaardige, maar baie afgeskeepte hoofstuk in die Bybel. Net soos in Romeine 8, waarby ons tans ook stilstaan, onderstreep hierdie hoofstuk die nuutmakende werk van die Gees in helder uitroeptekens. Dit begin met Paulus se opmerking dat ons as gelowiges wandelende briewe van Christus is. Die ink, wat gebruik is toe hierdie briewe geskryf is, is die Heilige Gees self. Hy het Jesus in ons lewens oorgeskryf.


Om te dink dat ons die nuwe skryfblokke van God is! Om te dink Hy gebruik ons as Sy wandelende, pratende, singende liefdesbriewe aan Sy stukkende wêreld! Die inhoud van hierdie briewe is Christus. Boonop is die skrywer hierdie keer nie onsself nie, maar die Gees. Hy is die samesteller van die inhoud van elke lewende brief. Nee, jy en ek bepaal nooit self die inhoud van Christus se brief aan die wêreld nie. Die Gees doen dit eksklusief. Al wat ons wel kan doen, is om dit te bekrap of te beskadig, of om gehoorsame briewe te wees deur te gaan waar Hy ons wil aflewer. Is jy onderweg na daardie adresse, waar Christus jou vandag graag wil aflewer? Is die Gees se handskrif duidelik leesbaar op jou? Gaan almal, wat jou lees, verstom staan dat God ‘n lewende brief persoonlik na hulle toe gestuur het om hulle lewens aan te raak?


Gebed:

Skryf U genadeboodskap duidelik oor op my lewe, Gees van Christus. Amen.

bottom of page