top of page
deur Roedolf Botha en Ivor Swartz

Leierskap wat die pad oorsteek


“In ‘n tyd van ongekende politieke en kulturele spanning, hoe reageer jou generasie kerkleiers op wat gebeur in ons land?”

So vra ‘n vriend my onlangs. Hy het lankal die kerk verlaat, maar hou haar nog van ‘n afstand af fyn dop. Hy is nie alleen nie. Duisende Suid-Afrikaanse Millennials en Gen-X, en selfs hier en daar ‘n paar Boomers, het die kerk verlaat oor institusionele besluite, of die gebrek daaraan.


Ek het nie ‘n deurdagte antwoord vir hom gehad nie, maar het iets genoem van ek wat voel die kerk staan al vir te lank op ‘n baie besluitelose kruispad wat ‘n klomp goed betref, en al wat jong geestelike leier is moet maar net in die ry inval en saam eers links dan regs, dan weer links en weer regs kyk, en wonder watter kant toe- soos die res. (Hierdie is net ‘n gevoel, en nie noodwendig die realiteit nie). Dit was Marcus Tullius Cicero wat gesê het,

“More is lost by indecision than wrong decision. Indecision is the thief of opportunity. It will steal you blind.”

Ons weet almal wat die antwoord is op die vraag,

“hoekom het die hoender oor die pad geloop?”

Hy wou natuurlik aan die anderkant van die pad kom, natuurlik. Ek wonder soms of leiers- veral kerkleiers in Suid-Afrika- nie ook tot op die sypaadjie loop, en dan eers wonder, hoekom wou ek nou weer oor die pad loop? En dan eers ‘n komitee stig- met vier vergaderings- om vas te stel die voordele en nadele van pad-oorsteek.


In Handelinge 10 lees ons die storie waar Petrus ‘n ontmoeting met God gehad het, waar God hom uitdaag om die pad oor te steek- eintlik letterlik ‘n huis se drumpel oor te steek- van sy godsdienstige sypaadjie af, tot binne in die huis van die nie-Joodse Romeinse weermag-offisier, Kornelius. En al het Petrus eers teen God protesteer, het hy tog in gestem omdat verlammende besluiteloosheid kolossale implikasies vir die evangelie ingehou het. Want, dit was as gevolg van daardie besluit- om die “pad oor te steek na die anderkant toe”- dat Kornelius se hele huis tot geloof in Christus gekom het. Die politieke en kulturele spanning was nie opgelos nie, maar die koninkryk van God het nuwe veld gewen.


Die uitdaging vir kerkleiers in hierdie tyd van politieke en kulturele spanning is om- ter wille van die evangelie- in daardie spanning te klim, om nie weg te skram en op die heining van besluiteloosheid te sit nie. Nes Petrus, het geestelike leiers in ons land ook die opdrag en uitnodiging om oor die pad te stap en te gaan besoek aflê aan die anderkant- aan die kant van die rykes, die armes, die kerklos, die ateïs, die bruin, die wit.


Ons het elkeen ‘n “anderkant” in ons leierskap. Dis op ons voorstoep. Dis wanneer ons in die kar klim, by die petrolstasie stop, huisbesoek doen, digitaal bediening doen. Ons moes almal vinnig besluite neem, en ons bedieningstyl aanpas, toe die inperking ons tref. Digitale bediening was iets waaroor baie leiers net gepraat het, en nou het ons nie ander keuse gehad as om die pad oor te steek en te begin nie. Dit laat my altyd dink aan hoe die kerk op meeste plekke in die samelewing makliker reaksionêr beweeg eerder as voorloop en pas aangee. En met die spanning in ons land, is daar nou genoeg geleentheid vir ons as leiers om voor te loop, en wanneer die vraag gevra word,

“hoekom het die kerk die pad oorgesteek,”

ons kan antwoord,

“want niemand anders wou nie.”

Mag jy en jou span gaan soek vir geleenthede waar julle die pad kan oorsteek en leiding gee in die spanning eerder as om slegs te reageer op die spanning.

Comentários


bottom of page