Leierskap en vrees
top of page

Leierskap en vrees


Ek glo nie daar bestaan iets soos ‘n vreeslose leier nie. Eintlik weet ons almal dit maar niemand wil dit hardop sê of erken nie. In twee verskeie artikels- minder as 3 maande uitmekaar uit skryf Forbes Magazine eers: “The Myth Of Fearless leadership”, en toe weer, “Three Habits Of Fearless Leaders”. Wat is dit nou? Is dit ‘n mite of is daar ‘n formule vir hoe jy ‘n vreeslose leier kan wees?


Ek dink die sleutel lê daarin dat jy kan erken as leier het jy vrese maar dat jy aktief aandag gee daaraan om jou vrese onder beheer te hou sodat dit nie jou leierskap sleg beïnvloed nie. Van die beste leiers wat ons kry is juis die wie bekend is met hul vrese, dit kan identifiseer, en ook beheer. ‘n Leier wat nie bewus is van hul vrese nie kan baie vinnig in ‘n roekelose leier verander. Ons sien dit reg rondom die wêreld.


Gregory Berns- in die boek Iconoclast, waaruit ons vir drie artikels werk- voer aan dat innovasie in breine voorkom wat nie net kreatiewe insigte het nie, maar ook om die vrees wat daarmee gepaard gaan, te oorheers. Met ander woorde, ‘n groot deel van innoverende, of “iconoclastic” leierskap is om bewus te wees van hoe jy reageer op vrees. Berns is baie duidelik daaroor dat hoe leiers reageer op hul vrese, kan ‘n maak of breek proses in hul leierskap wees. Hy sê in sy navorsing oor wat leiers verhoed om iconoclasts te word dat, “fear is the second major impediment to thinking like an iconoclast and stops the average person dead in his tracks”. Hy sê dis veral die vrees vir die onbekende en die vrees om in die openbaar bespot te word wat in meeste mense se pad staan om innoverende skuiwe in hul sfere van invloed te maak.


Hy stel voor dat leiers- om ten einde die leier se denkpatrone te verander en die vrese te beheer- dat jy jou roetine gereeld en intensioneel moet opskud; dat jy moet reis na dorpe en lande waar jy heeltemal uit jou gemaksone is, of bloot net dinge doen wat jy nog nooit gedoen het nie. Dit help verhoed dat jou brein, en ook jou leierskap, in auto-pilot gaan, en jou leierskap vir jou ‘n ‘chore’ raak.


Daar is nou- meer as ooit- ‘n aanvraag vir iconoclastic leierskap- in ons land veral. Leierskap wat hul hande opsteek en doen wat niemand anders bereid is om te doen nie. Maar wie ook weerloos kan staan en sê, “hierdie taak voor my laat my broek bewe, maar ek is in. Let’s do it!”


Die Water Heroes van Harrismith het onlangs groot opslae gemaak in die nuus toe ‘n paar doodgewone mense van die dorp begin het om dit wat deur jare van korrupsie en diefstal gebreek is, reg te stel. In plaas van bloot net hul lot aanvaar of om aan te hou wag vir die munisipaliteit om hul huis in orde te kry, het die groep mense gedoen wat niemand anders bereid was om te doen nie. Hulle het ingespring en ‘n groot waterpypleiding herstel as ook van die elektrisiteit probleme reggemaak.

Hierdie is iconoclastic leierskap. ‘n Klein groepie mense wat hul eie hulpbronne beskikbaar stel om iets te doen wat ander nie bereid is om te doen nie, om die onbekende in die gesig te staar van gaan hierdie werk, asook die openbare bespotting dat hulle nou die werk van die regering vir hulle doen.


Miskien kan jy en jou leiers hierdie vrae bespreek wanneer julle die geleentheid het:


  • Waar in jou leierskap- by jou kerk, besigheid, gemeenskap, of selfs in jou huis- kan jy jou vrese erken en nie aanhou voorgee dat jy vreesloos lei nie?

  • Hoe kan jy jou brein blootstel aan belewenisse wat jy nie noodwendig sou doen nie- sodat jy beter kan lei?

  • Wat is iets wat jy weet is op julle organisasie se tafel wat niemand bereid is om te doen nie?

  • Wat is van jou vrese vir die onbekende en/of vrese vir openbare bespotting?

bottom of page