top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Leiers moet mense gereed maak vir die dag van more


Ek is geen doemprofeet nie. Ek was nog nooit een nie. Doemprofesieë kom en gaan en tog is ons nog steeds hier. Van jongs af al hoor ek waarskuwings oor hoe swaar dinge kwansuis in die toekoms gaan wees. Ek het nog nooit regtig aan sulke pessimistiese projeksies erg gehad nie. Ek het maar altyd aangeneem die Bybel leer ons eerder om hoopvol te wees en die toekoms met geloof en blydskap tegemoet te gaan.


Min kenners sal egter stry dat die wêreld tans uiters vinnig beweeg en dat hierdie snelheid net meer sal toeneem in die toekoms. Mense gaan al hoe meer eensaam raak en alreeds ongekende vlakke van depressie toon. Leiers van instansies en bewegings gaan hulle mense moet help om die toekoms met optimale geestelike (verstandelike, sowel as emosionele) welstand tegemoet te gaan.


Die meeste mense en by name kerkmense, vermy die kompleksiteite wat moderne tegnologie, soos Kunsmatige Intelligensie, op die voorgrond plaas. Daar is baie moontlike strategieë wat leiers hier kan volg, maar een daarvan is om mense in kerke, sowel as mense in besighede asook geestelike instansies toe te rus hoe om oor tegnologie en veral in terme van geestelik-etiese besluitneming in die toekoms te dink. In ‘n artikel deur die Harvard Business Review word hierdie dilemma aan die hand van ‘n voorbeeld uit die etiese filosofie in die sestigs geskets. Die voorbeeld is as volg.


Sê nou ‘n trolliebus peil onbeheersd af op ‘n groep van vyf mense, wat gaan sterf, sou hulle getref word. Jy sit egter by ‘n hefboom, wat jy kan trek, wat sal veroorsaak dat die trolliebus op ‘n ander spoor oorgaan en slegs een persoon tref. Wat staan jou te doen? Moet jy eerder niks doen nie en passief kyk hoe daartoe dat vyf mense sterf (dan het jy ten minste geen aandeel aan hulle dood nie)? Moet jy eerder iets doen, wat dan daartoe lei dat jy intensioneel een persoon se dood veroorsaak (dan is een persoon se dood op jou hande)?


Kunsmatige intelligensie kompliseer hierdie dinge net meer. In ons digitale era, waar oorweeg word om selfgedrewe voertuie te skep, wat deur ‘n sentrale algoritme beheer word, hoe moet dié algoritme geprogrammeer word? Indien vyf mense voor jou motor instap, moet jou motor eerder die vyf mense spaar en met jou oor die afgrond jaag? Of moet jy gespaar word en die vyf mense sterf? Vir baie goeie mense is hierdie vrae te kompleks en hulle laat dit eerder aan ander oor. Die probleem, waarvoor die kerk te staan kom, is dat indien alle gelowiges hulle aan hierdie gesprekke onttrek, slegs nie-gelowige mense die besluite hieroor gaan neem. Geestelike leiers is veronderstel om hulle mense te begelei om helder te kan dink oor aangeleenthede soos hierdie.


In ‘n artikel, wat Tom Quinn oor die denke van Joseph Badaracco skryf, word ‘n “Google Maps” vir leiers neergelê, veral leiers, wat besluite moet neem oor die rol, wat KI (AI) in jou maatskappy moet speel. Dit dien egter ook as rigtinggewers vir hoe leiers hulle eie mense in ons nuwe wêreld kan leer dink.


1.     Wees die dapper een wat die onnosel vrae vra.

 

Tegnologie beweeg te vinnig. Leiers kan nie alles weet nie. Almal besef dit. Die rol van leiers is nie om alles te weet nie, maar om toe te sien dat daar aan alles gedink word. Vra dus eerder die dom vrae, wat jou medewerkers nie die waagmoed het om te vra nie. Sonder allerhande soorte vrae kan daar nie diep gedink word nie. En diep moet daar gedink word. Besluite moet geneem word, goeie, goeddeurdagte besluite. Vra die nodige vrae, wat die beste soort gesprekke sal ontlok en ontsluit. Vra dit al klink jy soos die dom een.

 

2.     Moenie te vinnig beweeg en dinge breek nie.

 

Ten spyte van die druk tot vernuwing en taakafhandeling, kan ons nie te haastig wees nie. Die gevolge van oorhaastige besluite kan op hierdie vlak tot katastrofe lei. Silicon Valley se aanvanklike “fail fast”-benadering gaan nie meer water hou nie. Die omvang van potensiële skade, vrese, mediablootstelling en die gewig op jou gewete kan heel moontlik te swaar wees. Dink eerder nog ‘n keer deur die implikasies, voordat nuwe tegnologie geïmplementeer word.

 

3.     Dink aan baie neges.

 

Badaracco beweer dat volgens die meeste statistieke, menslike motorbestuurders 99.999819 persent ongelukvry is. Wanneer dit dus kom by KI-algoritmes, wat moet besluit oor menslike aangeleenthede, sal dit selfs meer suksesvol in die vermyding van ongelukke moet wees. Daar sal baie meer neges na die desimale komma moet wees. Daarom moet ons ons ingenieurs, wat hiermee werk, tot diepe verantwoording en uiters deeglike nadenke roep.

 

4.     Oorweeg van die begin af die etiese aspekte van die gebruik van kunsmatige intelligensie.

 

Uiters min mense vra die vraag na wat die etiese aspekte betrokke by die implimentering van enige nuwe tegnologie is. Wie het byvoorbeeld al ooit vroeër jare gedink hoeveel werkers hulle werk sou verloor, wanneer die samelewing van koolstowe en kersligte na elektrisiteit oorgeslaan het? Of watter boer het al ooit gewonder hoeveel plaaswerkers hulle werk gaan verloor, wanneer ‘n nuwe stroper gekoop word? Maak geen fout nie - min van ons het. Daar is nie noodwendig fout met tegnologie nie. Die fout lê in die ondeurdagte gebruik daarvan deur die geestelike leier. Die tyd het egter gekom waar ons van die heel begin af sal moet begin dink watter etiese implikasies daar is wat betref die wyse waarop ons tegnologie implementeer.

 

5.     Werk saam.

 

Moenie alleen oplossings probeer kry nie. Die probleme is te kompleks en die vrae en denkprosesse kan eindeloos voorkom. Luister na hoe ander mense, departemente en maatskappye hieroor nadink. Die antwoord lê in kollektiewe geniale denke. So lei die Here ons ook deur middel van die wyshede van ander mense, wat ons vooruitgegaan het.


Voel jy hierdie artikel was nie vir jou nie? Die tema is ietwat uit jou diepte en belangstellingsveld? Wel, dis die probleem. Ons moet almal saam dink oor hierdie dinge, want ons gebruik almal tegnologie. Ons mag nie die denke hieroor uitkontrakteer aan ander nie. Elke stukkie tegnologie, wat ontwikkel word, gaan ons almal uiteindelik beïnvloed, asook die manier, waarop ons met God interaksie het en waarop ons kerk gaan, beïnvloed.


Leiers moet gelowiges bymekaarbring sodat ons oor hierdie dinge saam kan bid, saam kan dink en saam die wêreld ‘n beter plek kan maak, maar sodat almal kan floreer.

Commenti


bottom of page