Leier Nuusbrief Sept 2020 Deel 2
top of page

Leier Nuusbrief Sept 2020 Deel 2


Leier Nuusbrief September 2020 Deel 2

Wat sê die Bybel oor leierskap?


Daar is baie boeke beskikbaar om Christen-leiers te help. Natuurlik moet ons hulle lees en uit hulle leer, maar die beste gids vir belangrike sake, soos leierskap, bly die Bybel. Die Bybel is nie ons persoonlike boek oor leierskap nie, maar daar is baie Bybelse tekste wat ons baie van leierskap leer. Die Bybel is nie primêr ‘n handboek oor leierskap nie. Kom ons kyk na ‘n paar tekste wat ons sal help om te verstaan wat Bybelse leierskap behels.

1. Die evangelies: Dien terwyl ons tussen ons mense rondloop

In die evangelies sien ons die model van dienaar-leierskap. In Johannes 13 lees ons van Jesus wat sy dissipels se voete gewas het. Toe Hy hulle voete klaar gewas het en sy bokleed weer aangetrek het, vra Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem my julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek wat julle Here en Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was (Johannes 13:12 – 13) Hierdie is waarskynlik die beste demonstrasie van hoe Christen-leierskap moet lyk.Hier wys Jesus vir ons die belang van dienaarleierskap. As ons lei deur te dien, modelleer ons die leierskapsbenadering van Christus. Ons kry dieselfde benadering in Markus 10:45: Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense. Lukas 22 leer vir ons nog ‘n les: leierskap is om langs jou mense te loop. Die dissipels debatteer oor wie die grootste onder hulle is. Jesus sê dat wêreldse leierskap nie by die dissipels pas nie: Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is soos die een wat dien (Lukas 22:26). Hulle moet tussen hulle mense wees net soos Jesus tussen sy mense was tydens sy aardse bestaan. In Johannes 21 kry ons ‘n gesprek tussen Jesus en Petrus. Jesus vra vir Petrus of hy Hom liefhet. Toe Petrus bevestigend antwoord sê Jesus vir hom: Laat my skape wei. Jesus herinner ons hier dat as leiers ons tussen ons mense moet woon. Die sleutel om Jesus se mense te versorg is om tussen hulle te wees en hulle te voed. In werklikheid sê Jesus hier vir Petrus as jy nie soos skape ruik nie, dan is hy nie ‘n goeie leier nie. Leiers moet op allerlei toepaslike manière by hulle mense wees.

2. Romeine: Jy moet jou mense liefhê

Romeine 12 gee vir ons die benadering tot uitdagende situasies in die bediening. Vers 8 sê: As ons ander help, dan met blymoedigheid. In vers 10 lees ons: Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar. In Bybelse leierskap is liefde vir ons mense noodsaaklik. Weet jou mense dat jy hulle liefhet?

3. Titus: Kenmerke

Paulus se brief aan Titus gee duidelike kenmerke wat ons in onsself as leiers moet ontwikkel. Paulus verduidelik hoe ouderlinge in die kerk moet lyk: Hy moet onberispelik van gedrag wees, nie aanmatigend en opvlieënd nie, nie ‘n dronkaard of ‘n rusiemaker of ‘n soeker na oneerlike wins nie. Hy moet gasvry wees, lief vir wat goed is, verstandig, regverdig, vroom en selfbewus Hy moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig en die argumente van sy teëstanders te weerlê (Titus 1:7 - 9). As leiers voldoen ons aan hierdie vereistes? Ons is nie volmaak nie, maar ons moet altyd persoonlik in hierdie kenmerke groei. Hier is ‘n paar vrae vir nadenke:

  • Wat is die toestand van my huishouding? Hoe is my verhouding met my vrou/man? Vertrou en respekteer my kinders my?

  • Hoe behandel ek ander? Leef ek die kenmerke wat Paulus in Titus 1 gee uit?

  • Vertrou ek op die Skrif om my leierskap rigting te gee? Hoe kan ek hier verbeter?

  • Loop ek langs my mense en bemoedig hulle met die Skrif?

Dink gereeld oor hierdie vrae na. ‘n Sleutelelement van leierskap is om onsself te verbeter met die doel om ander te dien na die beste van ons vermoë. Jesus maak dit baie duidelik dat dienaar-leierskap die sleutel is tot enige leierskap in die kerk.


Leierskapsclichés wat jy liefs moet vermy


Leiers gebruik dikwels clichés, want hulle is soms van groot waarde. Hulle is gewoonlik maklik om te onthou. Maar nie alle leierskapscliches kan vertrou word nie. Gewoonlik bevat hierdie clichés ‘n mate van waarheid, maar is dikwels oorvereenvoudigings of oorbeklemtoon ‘n saak.


Hier is enkele voorbeelde:


1. Werk slimmer en nie harder nie (Work smarter not harder)


Hierdie cliché beklemtoon beter dink en nie net fisiese inspanning nie. Dit is goeie raad vir mense wat koorsagtig werk sonder ‘n duidelike strategie. Jy moet jou werk beplan en jy moet instrumente gebruik om tyd en die impak van jou werk te bevorder.


Hierdie cliché mag die indruk skep dat jy baie kan doen sonder om hard te werk as jy net slim werk. Dit is nie waar nie. Om te slaag moet jy hard werk. Die cliché onderbeklemoon volharding en harde werk.


Werk hard en werk slim – beide is nodig. Jy moenie tussen die twee kies nie.

2. Moenie meer afbyt as wat jy kan kou nie


Hierdie cliché beklemtoon dat jy bewus moet wees van jou vermoë as leier anders aanvaar jy te veel verantwoordelikheid wat jy nie kan baasraak nie.


Jy leer gewoonlik meeste in tye wat jy oorweldig is. As jy nooit meer afbyt as wat jy kan kou nie, sal jy nooit daardie spanning ervaar wat lei tot groei en ontwikkeling nie.


Soms moet jy meer afbyt as at jy kan kou. Nie te veel nie, want jy wil steeds geloofwaardig wees, maar genoeg om jou te dwing om nuwe dinge te leer en te groei.

3. Fokus net op jou sterkpunte


Persone is uniek. Elke persoon het ‘n unieke mengsel van ondervindings, vaardighede en passie. Om oorwegend op jou sterkpunte te fokus is goeie rentmeesterskap. As jy dit goed doen maak jy die grootste bydrae tot jou span se funksionering.


Maar as ‘n leier nie sy swakpunte van swak na gemiddeld verbeter nie, kan dit sy sterkpunte oorskadu. Dit mag beteken dat die leier ‘n noodsaaklike eienskap verloor - geloofwaardigheid.


Wat is die antwoord? Fokus oorwegend op jou sterkpunte en neutraliseer jou swakhede. In haar boek Multipliers skryf Liz Wiseman:

The truth is that you do not need to be fabulous at everything. You just can’t be bad. You simply need to neutralize the weakness and move it into the middle, acceptable.

Ek maak motivering en momentum dood


Maak nie saak hoe gemotiveerd jy is nie, as jou spanlede nie ook gemotiveerd is nie, sal die span nie suksesvol wees nie. Daarom is dit belangrik vir ‘n leier om te weet wanneer sy spanlede hulle motivering verloor.


Motivering is dikwels ‘n katalisator vir momentum. As ‘n span sy motivering verloor, verloor hy ook sy momentum. Dan moet jy jou span motiveer om die momentum weer aan die gang te kry. As leiers moet ons weet wat motivering vernietig. Hier is ‘n paar dinge wat motivering doodmaak:


1. Roetine


As mense vir ‘n te lang tyd dieselfde ding oor en oor moet doen, verloor hulle mettertyd belangstelling. Dit is veral waar in ons moderne tyd waar vinnige verandering die norm is. Om mense toe te laat om die manier waarop hulle werk te verander, moet dus in die organisasie ingebou wees.


2. Vrees

As mense bang is, is hulle te bang om te waag. Hulle probeer nie meer om hulle beste te lewer nie. Vrees verhoed dat ‘n span vorentoe kan beweeg. Leiers kan vrees verwyder deur foute te verwelkom, beheer te verminder en elke sukses te vier.


3. Sukses

‘n Groot sukses of ‘n periode van volgehoue sukses kan tot oorgerustheid lei. Die oomblik as die span voel dat hulle ‘gearriveer “ het, verdwyn die druk om te leer. As leiers dit agterkom, moet hulle nuwe geleenthede gee en groter uitdagings en risiko’s inbring.


4. Gebrek aan rigting

Mense moet weet hoe ‘n oorwinning, volgens die leier, lyk. As mense onseker is, verloor hulle hulle motivering of hulle doen niks of hulle gee hulle eie antwoorde. Leiers moet voortdurend die span herinner, sodat hulle presies weet wat van hulle verwag word.


5. Mislukking

aie mense kan nie mislukking aanvaar nie. As leiers moet ons soms mislukking aanvaar as ‘n integrale deel van bou aan sukses. Mislukking moet gebruik word om motivering te bou. Soos ‘n mens probeer herstel, leer jy lesse wat die span kan help.

6. Apatie

‘n Span wat sy passie vir die visie verloor het, se motivering sal verminder. Daarom moet leiers voortdurend die visie by die spanlede opskerp. Leiers moet ander bemoedig met baie entoesiasme vir die visie.

7. Uitbranding

As spanlede nie kan rus nie, sal hulle motivering afneem. Goeie leiers weet wanneer om ander te druk om te presteer en wanneer om rustye in te bou. Almal moet gereeld rus om weer energie op te bou.

8. Spanlede voel hulle word nie gewaardeer nie

As iemand voel dat sy bydrae tot die organisasie word nie waardeer nie, verloor hy sy motivering om te presteer. Leiers moet hulle spanlede bemoedig en hulle werk waardeer - en dit openlik sê. Die moeilikheid is dat ons nie hierdie probleme raaksien voordat die span begin om momentum te verloor nie. Dan is herstel moeiliker en soms self onmoontlik.

bottom of page