Leier Nuusbrief Oktober Deel 2
top of page

Leier Nuusbrief Oktober Deel 2


Vermeerder jou durf


Shannon Huffman Polson (“The Grit Factor: Courage, Resillience and Leadership in the Most Male-Dominated Organization in the World”) was een van die eerste vroue wat die Apache- helikopters in die Amerikaanse weermag gevlieg het. Sy praat onder andere oor idees om jou moed te vermeerder.

1. Bepaal jou kern doel in die lewe

Die wetenskap is duidelik: ons internaliseer iets beter, as dit in die vorm van ‘n storie is. Vir die beste resultate moet jy die wetenskap met ‘n storie kombineer. Die probleem is dat min navorsers gemaklik is om hulle ondervindings te deel. Hulle vind dit maak hulle kwesbaar. Om moed te vermeerder, moet leiers hulle stories, wat diep persoonlik is, openlik deel met ander.

Jy begin altyd met ‘Hoekom?” - jy moet bepaal wat jou kerndoel is. Nou kom jy in die gebied van persoonlike waardes, nie van jou organisasie of van ‘n spesifieke taak nie. Dit gaan oor diep introspeksie en herinner ons aan wat ons in die wêreld moet doen. Hierdie is jou sekerste anker in uitdagende tye. Risking failure is a part of the path to success.” – Shannon Huffman Polson

2. Trek jou sirkel

Niemand kom alleen deur moeilike tye nie. Jy het mense in jou sirkel (jou span) nodig. Dit beteken sekere mense is in jou sirkel en ander nie. Die mense wat nie in jou sirkel is nie, moet jy buite hou. Dit is ‘n harde werklikheid wat elke leier moet leer: nie almal is jou vriend nie. Kry die mense, wat jou ondersteun én die wat jý kan ondersteun. Own your story. Claim your own narrative.” – Shannon Huffman Polson

3. Draai jou neus na die wind

Nou doen jy die werk en bou op die voorbereiding, wat jy gedoen het. Hier praat ons van:

  • Egtheid – wees wie jy is;

  • Waagmoed – vra wat jy wil hê en hou by dit wat reg is;

  • Aanpasbaarheid – jy moet saam met die omstandighede kan verander.

  • Enige vliegtuig styg teen die wind op. Jy gebruik die weerstand om op te styg.

Fear is a normal human emotion. Remember that fear is just another form of resistance and you remember what you do with resistance on takeoff? You turn your nose toward it and fly directly through it.” – Shannon Huffman Polson Aanpasbaarheid is vir baie mense ‘n groot probleem. Verandering is feitlik altyd moeilik. Wees aanpasbaar - soek alternatiewe oplossings. Moenie aan net een antwoord vasklou nie. Jy moet die vermoë ontwikkel om die stresreaksie te onderdruk en om onmiddellik en kreatief met alternatiewe oplossings na vore te kom. Om die kenmerk van aanpasbaarheid te ontwikkel, is noodsaaklik vir enige leier. It’s not failure that matters. It’s what you do with it that counts.” – Shannon Huffman Polson You train for hard things by doing hard things.” – Shannon Huffman Polson


Leiers het uitdagings


Baie kerkleiers is uitgeput. 2020 was moeilik, want leiers het voor uitdagings gestaan, waarvoor hulle nie voorbereid was nie. Wat doen jy as jy emosioneel uitgeput is?


Elia is vir ons ‘n goeie rolmodel. “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het U altare afgebreek en U profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” (1 Konings 19:10) Hy is duidelik emosioneel uitgeput. God lei hom om drie dinge te doen en dit is hierdie dinge wat jou sal help om te herstel, wanneer jy ook uitgeput is.

1. Laat rus jou liggaam


Hy laat my rus in groen weivelde.” (Psalm 23:2)


Leier, jy kan nie geestelik en emosioneel sterk wees, as jy fisies uitgeput is nie. Dit is wat met Elia gebeur het.


God het nie met Elia geraas nie - Hy het nie vir hom gesê “ruk jou reg nie”. Hy het eenvoudig vir Elia laat slaap. “Hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak.” (1 Konings 19:5).

2. Praat oor jou frustrasies

Lees net weer 1 Konings 19:10. Elia steek nie sy gevoelens weg nie. Hy vertel vir God van al sy frustrasies. God is nie geskok as jy by Hom kla nie. Hy sal na jou luister totdat jy nie meer woorde het nie. God kan enigiets hanteer, wat jy voor Hom lê.

3. Onthou God en fokus op Hom

As jy uitgeput is, naby aan uitgebrand, onthou wie God is en wat Hy sê. Dan skuif jy jou oë weg van jou probleme na Jesus toe. Jy word weer bewus van God se mag en sy teenwoordigheid. In 1 Konings 19:11 – 13 demonstreer God sy almag aan Elia. Hy wys vir Elia wie in beheer is. As jy sukkel met uitbranding, is dit dikwels die gevolg daarvan dat jy wil God speel – jy wil in beheer van alles wees. As jy weer op God fokus, besef jy dat Hy in beheer is. Jy hoef nie meer te probeer om alles te beheer nie.


As jy uitgebrand en emosioneel uitgeput is, het God jou nie vergeet nie. Net soos met Elia, is God bereid om te help.


Is die dae van evangelisasie verby?


Ralph Moore het ‘n interessante artikel oor hierdie onderwerp geskryf. Hy sê dat “kerk wees” al hoe moeiliker word. Die omliggende kultuur het vinnig verander van apatie (onverskilligheid) na antagonisme (teenwerking, teenstand) teen die evangelie. Hulle wil nie hê wat die kerk kan bied nie. Wat pla kerkleiers? Is dit ‘n gebrek aan leiers of geld of is dit die ondoeltreffende oproep van dissipels of die feitlik totale gebrek aan evangelisasie? Wat dit ook al mag wees, dit is ‘n produk van die kultuur.


Moore begin deur te sê dat ons leierskap moet herdefinieer. Ons het die vyf leierskapsgawes, wat Paulus beskryf, saamgegooi in een emmer en ons noem dit pastor. Alles wat in die plaaslike gemeente gebeur, word deur hierdie pastor gedryf. Die woord apostel het in onbruik verval. Tydens die COVID-pandemie het sekere gemeentes lidmate verloor, terwyl ander dramaties gegroei het. Nou word hierdie groeiende gemeentes nageboots. As jy ander naboots, word jy gedwing om met hulle te kompeteer. Hierdie is ‘n stryd wat jy baie selde sal wen.


Todd Wilson (“Spark: Igniting a Culture of Multiplication”) het baie oor die kultuur in die kerk geskryf. Hy sê daar is drie primêre elemente in kultuur: waardes, stories en gedrag. Hy sê dat elke kerkkultuur sy eie stel spanninge het. Jy kies jou probleme as jy jou kultuur definieer. Jou waardes, die stories wat jy vertel en die gedrag wat jy modelleer, is die wortel van jou spanninge en ook van die oorwinnings wat jy behaal.


Baie gemeentes sukkel om doeltreffende uitreikprogramme te implementeer. Kom ons gaan terug na Paulus se vyf gawes: apostel, profeet, evangelis, herder en leraar. Dit is meestal evangeliste wat suksesvol sal wees om mense na Jesus te lei. In Johannes 1:40 - 42 lees ons dat Andreas vir Petrus sê dat hulle die Messias gekry het. Hy het hom na Jesus toe gebring. Net daarna lees ons van Filippus, wat vir Natanael na Jesus toe bring. Dit is persoonlik en gebou op verhoudings. Dit begin by jou nabye familie. In Matteus 9 lees ons van Jesus wat vir Matteus nooi om Hom te volg. Matteus loop saam met Jesus en Jesus gaan eet by sy huis. Wat belangrik is, is die saamloop. Dan lees ons van Jesus wat met die Samaritaanse vrou gesels. Selfs sy dissipels kon dit nie verstaan nie. Hier gaan dit oor ‘n verhouding wat vrugte dra, ver meer as net die vrou.


In Handelinge lees ons van byeenkomste, wat gebruik is om gelowiges toe te rus. Die vroeë model in Handelinge stem tot ‘n groot mate ooreen met die funksies beskryf in Efesiërs 4:11. Hierdie gawes word gebruik om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. (Efesiërs 4:12) Evangelisasie is nie gedoen deur toevallige bywoning van eredienste nie, maar deur persoonlike besoeke van gelowiges aan hulle bure.


Ons het nou die sirkel voltooi. As jy nie ‘n evangelis of apostel is nie, moet jy ‘n kultuur bou, wat mense ontwikkel, wat vir hulle vriende kan vra: ”Volg my soos wat ek vir Christus volg.” Daar is nie gebede in die Bybel, wat ‘Jesus in jou hart innooi nie”. Dit gaan meer oor saam verkeer totdat hulle iets wil hê, wat jy het. Ons moet mense toerus om iets te hê, wat ander wil hê en dan vir hulle leer om saam te loop.


Jesus sê dat ons as ware dissipels bekend sal wees as gevolg van ons liefde. Ons kan die politiese en rasseskeiding oorbrug deur mense doeltreffend te leer om naby genoeg te kom aan mense, wat Christus nie ken nie. Dit is baie beter as duur kom-kerk-toe-programme.


Wat nodig is, is vriendskapsevangelisasie. Ons waardes moet vasgelê word in die stories, wat ons vertel. Op sy beurt lei dit tot doeltreffende gedrag. Ons moet in die lig van die Skrif en ons gawes as leiers die kultuur, wat ons gebou het, weer ondersoek.

bottom of page