Leier Nuusbrief Oktober Deel 1
top of page

Leier Nuusbrief Oktober Deel 1


Leierskap geskied nie in isolasie nie


As jy ‘n kerkleier is, het God jou ‘n taak gegee, wat jy nie op jou eie kan hanteer nie. 2020 het dit onderstreep. Daar was tye vanjaar, wat jou taak onmoontlik gelyk het. Die boek Nehemia wys vir ons hoe belangrik goeie leierskap in die voltooiing van ‘n projek is. Die Israeliete het ‘n projek in 52 dae voltooi – iets wat almal gesê het nie moontlik was nie. Watter soort leier het jou gemeenskap en gemeente nodig? Nehemia wys vir ons die kritiese eienskappe van ‘n goeie leier.

  1. n Dwingende doel. Jy het ‘n visie, wat jou vorentoe dryf, nodig. Nehemia het dit gehad. Toe van sy vyande hom probeer keer het, sê Nehemia: „Ek is besig met ‘n groot werk.” (6:3).Hy was toegewy aan die projek, want hy het geweet dat dit ‘n groot saak was. Die belangrikste saak is die koninkryk van God. Niks anders duur vir ewig nie. Baie leiers se aandag word deur nietige sake afgetrek. As jy die gemeente wil lei om ‘n groot projek te voltooi, begin deur God se koninkryk jou prioriteit te maak. Los al die ander dinge.

  2. Duidelike persepsie. Jy moet moeilikheid vooruit kan raaksien. As jy as leier iets groot probeer, sal daar moeilikheid wees. Elke lokval wat vir Nehemia gestel word, het hy aangevoel: “Hulle het almal probeer om ons die skrik op die lyf te jaag.” (6:9) Hy het geweet wat sy kritici beplan het: “Hulle plan was om my by te kom.” (6:2) ‘n Leier het hierdie tipe waarnemingsvermoë nodig. Jy kan dit net op een manier kry: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en Hy sal dit aan hom gee.” (Jakobus 1:5) As ons tyd in die Woord van God spandeer, word jy ‘n leier met beter waarnemingsvermoë.

  3. Voortdurende gebed. Gebed was altyd sy eerste reaksie. Let op dat hy in Nehemia 6 nooit verdedigend geword het nie. Hy het ook nie terugbaklei, toe sy vyande vals aantygings teen hom gemaak het nie. Hy het net gesê dat dit nie waar is nie en toe begin hy daaroor bid. As mense jou as leier valslik beskuldig, is dit al wat jy moet doen – jy het nie ‘n langdradige verdediging nodig nie. Sê net: “Dit is nie waar nie,” en neem die saak dan na die Here.

  4. Volharding. As jy groot projekte aanpak, moet jy nie gou tou opgooi nie. Hou aan doen wat God van jou verwag. Net omdat jy moed hou in moeilike tye, beteken nie dat jy nie bang is nie. Moed beteken nie die afwesigheid van vrees nie, maar om ten spyte van jou vrees vooruit te beur.

In Nehemia 6:11 vra Nehemia: “Sal ‘n man soos ek vlug?” Natuurlik was Nehemia bang, maar hy het besef dat hy naby die eindstreep was. Hy weier om te vlug. Dit is nie God se wil dat ons van moeilike situasies moet wegvlug nie. As ons deur die geskiedenis kyk sal ons hierdie vier eienskappe in elke leier, wat sy God-gegewe doelwitte bereik, raaksien.


Moenie reageer nie


‘n Sterkpunt van ‘n leier is om sy emosies te kan beheer – moenie reageer nie. As ons verwerp, seergemaak of bevrees is, reageer ons dikwels. Ons is sigbaar kwaad of ons word verdedigend. Hierdie reaksies kan God se werk in ons lewens belemmer en kan ons leierskap skade berokken. Die Skrif waarsku ons om nie kwaad te word of toe te laat dat enige ander negatiewe reaksie ons beheer nie:

  • “As julle kwaad word, moenie sondig nie en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie.” (Efesiërs 4:26)

  • Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.” (Efesiërs 4:31)

  • “Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie.” (Kolossense 3:8)

Hoe beheer ons hierdie gevoelens, wat soms uitspring sonder dat ons eers daaroor dink? Wetenskaplikes het bevind as ons ‘n emosie onderdruk, dit ons negatief mag beïnvloed:

  • Dit verminder ons geheue en vermoë om besonderhede van ‘n gebeurtenis te sien en te onthou.

  • Om die emosie te onderdruk, doen eintlik die teenoorgestelde. In plaas daarvan dat dit ons help om die emosie te beheer, verminder dit ons interne hulpbronne, wat vir ons beskikbaar is om in ‘n situasie op ‘n Bybelse manier te reageer.

Wetenskaplikes ontdek nou wat die Bybel reeds lank tevore gesê het: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie (Galasiërs 5:17). As hierdie emosies weer jou denke en gedrag beïnvloed, dink aan hierdie eenvoudige manier om ongesonde uitdrukkings van jou emosies te beheer:

  • Verander die situasie. As jy op ‘n toepaslike wyse die situasie kan vermy of verander, doen dit. Dit is natuurlik die maklikste uitweg, maar is nie altyd moontlik nie.

  • Soek ‘n afleiding. Kyk na iets anders om oor te dink of om op te fokus.

  • Sit in jou stoel., maak jou oë toe en dink aan wat jy besig was om te dink. Begin dan doelbewus anders na die situasie kyk. As jy net dink aan jou verhouding met die ander persoon sal jy dikwels beheer oor jou emosies kry.

  • Versag jou sigbare reaksie. Erken dat jy kwaad is en die Here sal jou help om ‘n potensieel ongesonde en skadelike reaksie teenoor die persoon te vermy.

Verander terugtrekking in vooruitgang


Baie mense glo dat skaarsheid lei tot duidelikheid. Vandag is skaarsheid – aan werk, sielerus en gesondheid - algemeen.


President Franklin Roosevelt sê tydens die Groot Depressie:

"So, first of all, let me assert my firm belief that the only thing we have to fear, is fear itself - nameless, unreasoning, unjustified terror which paralyzes needed efforts to convert retreat into advance."

Niemand van ons het nog ooit deur ‘n tyd soos hierdie geleef nie. Terwyl ons stadig vorentoe beweeg, moet ons nie die geleentheid om “retreat into advance” te verander, laat verbygaan nie. Dit is maklik om die pandemie as ‘n onderbreking te sien en dan soos in die verlede voort te gaan. Ons sal die gevolge dra. Ons kan ook die pandemie sien as ‘n spilpunt om vorentoe te beweeg na ‘n nuwe visie vir jou bediening. As ons die evangelies lees, sien ons dat baie van Jesus se bediening plaasgevind het as Hy gereageer het op geleenthede wat aan Hom gebied is. Hy kom vissermanne teë as Hy langs die See van Galilea loop (Matteus 4:18 – 22); ‘n verlamde man word deur die dak neergelaat (Markus 2:1 – 12); ‘n veragte tollenaar, Saggeus, kom na Hom luister (Lukas 19:1 – 10); ‘n verworpe Samaritaanse vrou (Johannes 4). Die evangelies is vol hiervan.


Ons sien dat Jesus beskikbaar was vir die randfigure in die samelewing, want Hy was nie die hele tyd besig om sy te-doen lysie vir die dag te kontroleer nie. Hy kon diegene, wat Hom genader het, bedien. Bediening vandag is ook nie vooraf beplan nie – dit is ‘n reaksie op nuwe uitdagings, baie soos Jesus se aardse bediening.


Ons kan nou weer dink oor ons bediening op verskillende vlakke. Dit help gemeentes om die ”hoekom” te sien vir wat hulle doen. Ons gee meestal aandag aan “wat” ons doen en min aandag aan die “hoekom”.


COVID was in baie opsigte ‘n terugslag vir gemeentes. Dit sou egter tragies wees as ons, ons haas om terug te keer na wat ons as normaal beskou en nie ons visie en missie heroorweeg nie.


Hoe kan ons verander in ‘n chaotiese tyd soos nou?

1. Sekere dinge moet behou word.

Dit is die dinge wat sentraal staan as ons God se kerk is. Gesamentlike aanbidding is ‘n goeie voorbeeld.

2. Sekere dinge moet gestaak word.

Wat is die dinge wat nie sentraal tot die gemeente se roeping staan nie, of selfs die aandag van die roeping aftrek? Nou is die tyd om daarvan ontslae te raak.

3. Sekere dinge moet aangepas word.

Watter rol gaan die aanlyndienste in die toekoms speel? Gaan jy aan daarmee vir mense wat nie die eredienste kan bywoon nie?


Hierdie is ‘n goeie tyd om vrae te vra. Stel ‘n eenvoudige vraelys op en vra lidmate vrae, soos: Wat is die grootste behoefte waarmee die gemeente kan help? Watter leemtes is daar in die gemeenskap wat die kerk kan help vul?


Dit is nou tyd vir die evangelie om vooruit te gaan en nie terug te trek nie; vir ‘n nuwe visie en bediening en nie ‘n terugkeer na die status quo nie. Dit beteken nie dat ons die virus moet ignoreer nie. Ons moet wel ons geestelike hulpbronne na vore bring.

bottom of page