• deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief Junie deel 1


Ekerk Leierskap Nuusbrief Junie 2020 deel 1

Hou jongmense in die kerk


Dit is algemene kennis dat jongmense, veral as hulle ouerhuis verlaat, nie meer enige verbintenis met ‘n kerk het nie. Tog is daar gemeentes wat daarin slaag om hulle jongmense te behou en selfs jongmense te trek. Wat hou jongmense in die kerk?

1. Opregte verhoudings

Hierdie verhoudings is op verskillende vlakke:

· Sterk verhoudings met ander van dieselfde ouderdom.

· Hulle het gewoonlik ‘n bedieningsleier wat hulle respekteer.

· Hulle het ‘n verhouding met ouer volwassenes, Jong mense verlang na ouer mentors en modelle.

Gemeentes wat hierdie verhoudings kan bied, is ‘n magneet vir jongmense.

2. Diep teologie

Hierdie ouderdomsgroep stel nie belang in afgewaterde teologie nie Hulle wil diep dink en wil teologie met ander bespreek wat hulle kan help om hulle posisie te deurdink.

3. Praktiese geleenthede

Diens vir hierdie groep beteken meer as net die bywoon van eredienste en om rande in die kollektebordjie te plaas. Vir hulle beteken dit diens – om ‘n verskil in iemand se lewe te maak. Hulle wil die evangelie na mense wat seerkry neem.

4. ‘n Betekenisvolle doelwit

Hierdie ouderdomsgroep kan selfsugtig wees, maar hulle stel baie belang in sake. Of hierdie nou armoede, mensehandel, verslawing of ander sake is, jongmense wil graag sake groter as hulleself aanpak.

5. Eerlike antwoorde

Hierdie jongmense aanvaar nie noodwendig die teologie van hulle plaaslike gemeente nie. Hulle bevraagteken alles, maar met ‘n begeerte om te leer. Hulle soek ‘n gemeente wat hulle vrae erken, hulle probleme respekteer en wat deurdag hierop reageer. Hulle respekteer leiers wat wanneer nodig sê: “ek weet nie”.

6. Aangenome familie

Dit geld veral vir jongmense wat geografies of emosioneel ver van hulle families is. Hulle soek geleenthede om deel van ‘n familie te wees – om saam met hulle te eet, om hulle kinders te leer ken en om ‘n toevlugsoord te hê as dinge moeilik raak,

7. Pastorale ondersteuning

Gemeentes wat jongmense behou, het leraars wat bereid is om tyd en aandag aan hulle te gee. Hulle sien die leraar nie net as die ‘ou” wat preek nie, maar as ‘n vriend wat hulle kan nader as dit nodig is.

8. Globale sending

Jongmense hou van die avontuur van reis en die geloofsrisiko van gaan waar ander dalk nooit sal kom nie.


Leiers se verbintenisse


Leiers word deur hulle verbintenisse gedefinieer. Hierdie verbintenisse is ononderhandelbaar as jy doeltreffend in ‘n Bybelse en bedieningsopset wil lei. As jy persoonlik onderneem om hierdie verbintenisse uit te leef, sal jy toenemend meer doeltreffend en produktief as leier word.

Rick Warren identifiseer ses sulke verbintenisse.


1. As ‘n leier onderneem ek om my integriteit te behou

Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe (2 Petrus 3:14). Jy hoef nie volmaak te wees om ‘n doeltreffende leier te wees nie, maar jy moet deursigtig wees oor jou swakhede. Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang (Spreuke 28:13).

‘n Persoon met integriteit maak nie daarop aanspraak dat hy alles op elke gebied agtermekaar het nie. Die persoon met integriteit sê: “Hier het ek vertroue in my vermoëns en hier nie.” Jy moenie net die waarheid onderrig nie, jy moet dit uitleef.

As jy wil lei, moet mense jou vertrou. Die fondament van leierskap is vertroue wat voortspruit uit ‘n reputasie om die waarheid te praat.

2. As leier onderneem ek om diegene wat my seergemaak het, te vergewe

Beywer julle vir vrede met alle mense asook ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie (Hebreërs 12:14 – 15). Jy sal in die bediening seergemaak word – of bewustelik of onbewustelik. Dit is ‘n waarborg.

Dit is waarom bitterheid chaos in baie bedieningsleiers veroorsaak. As jy toelaat dat bitterheid in jou lewe groei, sal dit jou hart vir God versmoor. As jy nie hierdie onderneming maak nie, sal jy geneig wees om mense wat jou kritiseer te vergeld. Jy kan nie dit doen en steeds ‘n leier wees nie. Geestelike leierskap vereis vergifnis.

Jesus die volmaakte leier is verraai. Dit is nie altyd jou fout nie, maar dit is jou fout as jy verbitterd word, want dit verhoed dat jy die leier is wat God wil hê dat jy moet wees.

3. As leier onderneem ek om te ontspan en God te vertrou

Want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie (Hebreërs 4:10 – 11). Jy moet in bediening leer om te ontspan Jy moet bekommerd wees oor die behoeftes van die mense om jou, maar jy moet onthou dat jy nie God is nie.

God is in beheer. Jou taak is om getrou te wees en God toe te laat om God te wees. Hoe kan jy God in jou bediening vertrou sodat spanning jou nie oorweldig nie? Jy bid meer. Jy dink na oor God se beloftes. Jy onthou sy geskiedenis van trou in jou lewe.

4. As leier ondeneem ek om ‘n bemoediger te wees

Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (Romeine 14:19). As leier moet jy besluit om mense op te bou., nie om hulle af te kraak nie. Hoe doen jy dit? Fokus op dit wat hulle reg doen en nie op hulle foute nie. Beklemtoon hulle potensiaal om te groei en te verbeter.

Luister na die mense wat jy lei, dit vertel vir hulle dat jy omgee en hulle waardeer. Christen-leiers is voorsieners van hoop as jy entoesiasties en hoopvol is, sal jy diegene wat jy lei, bemoedig.

5. As leier onderneem ek om ‘n vredemaker te wees

Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe (Efesiërs 4:3). Leiers se taak is om konflik te verminder op daardie plekke waar hulle invloed het. Ons wêreld het genoeg konflik. Leiers kan nie nog tot die konflik bydra nie.

Dit beteken jy neem nie deel aan skinderpraatjies nie, en veroordeel dit waar jy dit hoor. ‘n Leier moet ook diversiteit aanmoedig. Almal van ons se persoonlikhede verskil. Ons het verskillende sterkpunte ‘n Vredemakende leiers bevorder eenheid en nie uniformiteit nie.

6. As leier onderneem ek om nooit op te hou groei nie

En juis om daardie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar, die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken (2 Petrus 1:5 – 8).

Leer is die lewenstyl van leiers. Bedienings wat groei het leiers wat groei nodig. Een van die beste manière vir ‘n leier om te groei is deur nuwe mense te ontmoet. Kreatiwiteit is die vermoë om idees uit verskillende bronne te neem en te sien hoe hule inpas by wat jy besig is om te doen.

Wees oop vir terugvoer.

Hierdie verbintenisse sal jou bediening verander. Jy is die produk van die verbintenisse wat jy maak.


Preekmetodes wat Jesus gebruik het


Jesus is die grootste prediker van alle tye. Hoe het Hy onderrig? Hier is ses van sy preekmetodes waaruit ons kan leer.

1. Jesus het stories vertel

Jesus het baie gelykenisse vertel: Sonder ‘n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê (Markus 4:34). As gevolg van hierdie stories kon die mense Jesus se boodskap beter verstaan en onthou.

Kom ons kyk na die gelykenis van die verlore seun. Jesus kon net gesê het: God het jou so lief dat Hy jou sal terug verwelkom, maak nie saak hoe ver jy wegdwaal nie. Dit is die waarheid. Maar Jesus verkies om ‘n storie te vertel van ‘n seun wat sy familiehuis verlaat het, sy erfporsie uitgemors het en toe teruggekom het en vir genade gesmeek het.


Verbasend word hy met oop arms deur sy vader, wat elke dag vi hom gewag, het terug verwelkom. Wat is die kragtigste. As jy soos Jesus wil preek vertel stories – baie van hulle. Gebruik voorbeelde uit die alledaagse lewe om geestelike waarhede te leer.

2. Jesus het mense geskok.

Jesus het dikwels van hiperbool, oordrywings en skokkende stellings gebruik gemaak om mense se aandag te trek. Hierdie stellings kan nie almal letterlik opgeneem word nie, maar hulle het beslis ‘n punt gemaak.

Jesus het nie letterlik bedoel dat ons ons oë moet uithaal of ons ledemate moet afkap, omdat die oog en die ledemaat ons tot sonde verlei nie. As dit so was, was alle Christene blind en sonder ledemate (Matteus 5:29 – 30). Hy het ook nie letterlik bedoel dat die mense met wie Hy gepraat het balke in hulle oë gehad het nie (Matteus 7:3 – 5). Jesus het dinge gesê wat mense geskok het en die waarheid oordryf het, om ‘n punt te beklemtoon.


As jy soos Jesus wil preek, skok mense. Oordryf met jou vrae. Sê dinge wat nie letterlik bedoel is nie. Gryp die aandag en maak die punt baie duidelik.

3. Jesus het wonderlike sêgoed gevorm.

Jesus het digterlik gepraat. Hy het dikwels woordspeling gebruik. Dit is nie altyd duidelik in die vertalings nie, maar in die oorspronklike taal het Jesus dit makliker gemaak vir sy luisteraars om te onthou wat Hy gesê het.

Dink maar net aan dinge wat Jesus gesê het soos: Behandel ander mense soos julleself behandel wil word (Lukas 6:31); Moenie oordeel nie en oor julle sal nie geoordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word (Lukas 6:37 – 38a).

As jy soos Jesus wil preek, vorm wonderlike sêgoed. Maak die maklik vi mense om die belangrikste punt te onthou.

4. Jesus het vrae gevra.

Eerder as om vir die mense onmiddellik die antwoord te gee, het Jesus die gehoor gelei na die gevolgtrekking deur vrae te vra: Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry, maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe? (Matteus 16:26). Toe Jesus gevra is oor die betaal van belasting aan die keiser antwoord hy met ‘n vraag: Wie se kop en naam is hierop? (Matteus 22:20 – 21).

Vrae is ‘n kragtige onderrigmetode, veral as jy met ‘n vyandige gehoor te doen het. Vrae stimuleer kritiese denke. As jy goeie vrae vra, soek die gehoor die antwoorde. As jy soos Jesus wil preek, vra baie vrae. Help die gehoor om hulle eie brein te gebruik.

5. Gebruik voorbeelde.

Jesus het dikwels sy gehoor deur voorbeeld geleer. Hy was die voete van sy dissipels om hulle te leer dat leiers dienaars is. Hy roep ‘n klein kindjie na Hom om kinderlike geloof te bespreek. Hy beskryf onselfsugtige gee na Hy die weduwee twee geldstukkies in die offergawekis in die tempel sien ingooi het.

‘n Waarheid wat visueel gekommunikeer word, is baie kragtig. as jy soos Jesus wil preek, gebruik voorbeelde. Wees kreatief in jou voorbereiding. Dink aan manière om jou boodskap visueel oor te dra.

6. Jesus gebruik herhaling

Jesus het sy gehoor om sy lesse te leer deur Homself te herhaal. Hy het herhaaldelik oor die belangrike temas gepraat. So praat Hy drie maal van sy dood en opstanding (Markus 8:31; 9:31; 10:33 – 34) – en die dissipels het dit nog nie verstaan nie. Soms moet mense ‘n ding ‘n paar keer hoor voordat dit insink Onderrig wat herhaal word, word onthou. As jy soos Jesus wil preek, herhaal.

Kry die belangrikste punt in jou boodskap en sê dit weer en weer. Moenie bang wees om meer as een keer per jaar oor dieselfde onderwerp te preek nie.


Die kerk verloor goeie leiers


People don’t quit organizations—they quit people – Anoniem

Dit maak seer as mense die gemeente verlaat. Dit maak waarskynlik seerder as leiers ‘n gemeente verlaat. Daar is baie redes waarom gemeentes mense verloor. Soms is dit die omstandighede in die gemeente. Soms is dit ‘n natuurlike probleem van groei en ontwikkeling.

Hoekom verlaat leiers ‘n gemeente?

1. Ons lei nie meer met visie nie

Visie is belangrik. Dit skep momentum en opgewondenheid. As ons met visie lei, laat dit mense van huurders na eienaars beweeg. Visie lei tot passie.

2. Ons laat nie mense toe om hulle passie uit te leef nie

Leiers in die gemeente moet betrokke wees en ons moet hulle passie met hulle geleenthede in ooreenstemming bring. As mense passievol is oor iets wil hulle dit graag doen – hulle moet dit doen. As ons nie hulle passie en hulle doel belyn nie, verlaat hulle die gemeente.

3. Ons beheer eerder as om te vertrou

Goeie leiers wil vertrou word. Hulle sal nie aanbly as hulle voel hulle word mikrobestuur nie. Sal hulle dinge anders doen as at ons dink hulle moet? Waarskynlik. Groei, vir hulle en vir die gemeente, beteken dat in leierskap nie net die verantwoordelikhede maar ook die gesag gedeel moet word. Die gevolg is leiers wat by jou sal leer en ook sal help om ander leiers te ontwikkel.

4. Daar is ‘n gebrek aan kreatiewe betrokkenheid

Kreatiewe mense wil dinge verbeter, ons beste mense wil waarde tot die gemeente toevoeg. Hulle hou daarvan om uit te daag en te bevraagteken. Hulle soek geleenthede om betrokke te raak en te innoveer. Ons moet ons beste mense toelaat om uit te styg en hulle beste werk te doen.

5. Ons onderrig nie

Leerders is leiers. Ons is almal op ‘n reis en wil verbeter en meer waardevol word. Skep ‘n kultuur van onderrig en leer vir leiers in die gemeente.

6. Ons daag nie meer uit nie

Ons is verantwoordelik om ons beste mense uit te daag. Daag hulle uit om hulle beste te doen, om hulle vaardighede, intelligensie en hulpbronne optimaal te gebruik. As mense nie uitgedaag word nie, raak hulle verveeld en soek ‘n ander plek waar hulle uitgedaag kan word.

7. Ons skep nie geleenthede vir hulle stemme nie

Ons moet aan ons beste mense die geleentheid gee om gehoor te word. Leiers kan nie goeie besluite neem as hulle net een mening of net een stel data het nie. Ons beste mense het kosbare inligting en menings, en is bereid om dit te deel. As ons nie luister nie, gaan belangrike inligting verlore.

8. Ons stel meer belang in die resultate as in die persoon

Mense as belangrik. As mense voel ons gee meer om vir die produk as vir hulle, sal ons hulle verloor. Gee om vir mense. Dit is moeilik en neem kosbare tyd in beslag, maar dit bly die beste belegging wat ons kan maak. As jy mense vertrou, kan jy vergeet van die produk. Die produk sal vir homself sorg.

9. Ons het nooit die liefde gedeel nie

Aanvaar nooit die krediet nie; aanvaar altyd die verantwoordelikheid. As ons die krediet met ander deel en as ons die span bevorder, bou dit waarde en vertroue. As ons mense vir ons agenda gebruik, vernietig dit die moraal. As dinge goed gaan, is dit alles oor die span. As dinge sleg gaan, is alles oor die leier.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: