Leier Nuusbrief Julie deel 2
top of page

Leier Nuusbrief Julie deel 2


Dinge wat Jesus gesê het, wat ons vergeet


As julle dit begryp, gelukkig is julle as julle dit doen. (Johannes 13:17)

Waarom noem julle My ‘Here, Here’ maar julle doen nie wat Ek sê nie? (Lukas 6:46).


1. Die tweede gebod

Ons wil graag hê dat ons godsdiens ‘n private saak moet wees – iets tussen my en God. Nadat Jesus versoek is om die belangrikste gebod te identifiseer, sê Hy: En die tweede wat hieraan gelyk staan, is, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Matteus 2:39). Let op dat hierdie ‘n gebod en nie ‘n opsie of mening of wens of ‘n Facebook “like” is nie. Om jou naaste lief te hê, is ‘n sleutel komponent van die soort getuienis wat Jesus verwag dat Sy mense in die wêreld moet lewer.

Hoekom doen ons dit nie? Ons vind dit ongemaklik, moeilik en veeleisend. As ons mense werklik liefhet, mag hulle ons nodig kry en dit krap ons skedule om. Dit is makliker om om te gee vir diegene, wat dit waardeer, as om te gee vir diegene, wat iets nodig het.


2. Ons vergeet twee dinge van Jesus se opdrag om kos te gee vir dié wat honger is, om die behoeftiges te klee en die siekes te besoek, ens. (Matteus 25)

Eerstens vergeet ons dat dit ‘n opdrag en nie ‘n opsie is nie. Jesus verwag dat Sy mense dit sal doen.

Tweedens moet ons dit doen aan een van hierdie geringstes. Paulus sê: Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof. (Galasiërs 6:19)


3. Ons vergeet dat om mense en God lief te hê, gaan oor optrede en nie oor emosie nie.

Toe Jesus gesê het dat ons ons vyande moet liefhê, het Hy onmiddellik bygevoeg dat Hy van optrede praat:Doen goed aan diegene, wat julle haat. Seën die mense, wat julle vervloek. Bid vir diegene, wat julle sleg behandel. (Lukas 6:27) Natuurlik is woorde belangrik. Soms is emosies ook belangrik. Maar niks is so belangrik soos optrede nie. Jesus stel dit baie duidelik: Daarom sal elkeen wat na My woorde luister en daarvolgens handel, soos ‘n verstandige man wees, wat sy huis op rots gebou het. (Matteus 7:24)


4. Ons vergeet dat die Here gesê het dat die mense ons sleg sal behandel.

Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom ‘n tyd wat elkeen, wat julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. (Johannes 16:2) God se mense verwag dat die mense, wat hulle bedien, hulle sal liefhê en waardeer. Ons word dan onkant deur hulle vyandigheid betrap. Dan kla ons en vra waar God dan is.

Wat is verkeerd? Niks nie. Jesus het gewaarsku dat dit gaan gebeur: En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. (Matteus 10;16 – 22)


5. Ons vergeet dat Jesus gesê het dat ons ons vyande moet liefhê.

Ons vyande behandel ons sleg en hoe moet ons nou reageer? Ons moet hulle liefhê en nie met ‘n grief teenoor hulle rondloop nie, nie kwaad wees nie, nie hulle verwerp nie. Kyk net na Facebook en jy sal ontsteld wees oor wat belydende gelowiges oor ander godsdienste en mense, wat polities van hulle verskil, skryf. Hulle gedrag en woorde spreek van haat en kwaadwilligheid.

Toe Jesus aan die kruis gehang het en besig was om te sterf, terwyl die soldate besig was met hulle bose werk, sê Jesus: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. (Lukas23;34) Ons moet ons vyande liefhê.


6. Ons vergeet dat ons partytjies moet hou vir diegene, wat dit nie verdien nie, en vir diegene, van wie ons nie hou nie.

Nee, wanneer jy ‘n feesmaal aanbied, nooi die armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Dan sal jy gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want jy sal beloon word by die opstanding van die regverdiges. (Lukas 13:13 – 14) Hierdie mense lê na aan die Here se hart. Hulle is baie spesiaal vir Hom.


7. Ons vergeet dat Jesus red.

Ons weet dat Hy vergeef en ons sing graag daarvan. Sy sal geboorte gee aan ‘n seun en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal Sy volk van hulle sondes verlos. (Matteus 1:21) Dit is ook ons taak. Ons, wat ons aan voeding van dié wat honger is en kleding van dié wat naak is, toewy, dink dat ons nou ons opdrag voltooi het. Ons misluk as ons vir mense brood gee, maar nie vir hulle van die Verlosser vertel nie. Dit is hulle grootste honger en diepste seer.


8. Ons vergeet dat met Jesus verandering die norm is.

Lukas 5:36 – 39 sê dat nuwe wynsakke die Here se patroon vir Sy dissipels is. Ons hou so van die status quo. Dit is die neiging om aan te hou met wat ons tans doen – ons staan stil. Die Here doen dit nie met ons nie. Hy is voortdurend besig om ons uit ons gemaksones te roep. Ons moet ons bestaande metodes los en nuwe maniere kry hoe om dinge te sien of te sê. Niemand, wat onwillig is om voortdurend te verander en aan te pas, kan Jesus oor die langtermyn volg nie.


9. Ons vergeet dat die doelwit nie is om reëls na te kom nie.

Die doelwit is om gehoorsaam aan die Here te wees en nie om slaafs sekere reëls na te kom nie. Hy het ons bekwaam gemaak om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees – nie van die letter nie, maar van die Gees. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend. (2 Korintiërs 3:6) Jesus waarsku baie sterk hierteen: Wee, julle skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. (Matteus 23: 23) Die Here sê vir wettisiste, wat God se gebooie in boeie verdraai het: Die Sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie. (Markus 2:27) In elke gemeente is daar mense wat hieraan herinner moet word.


10. Ons vergeet om die hele Skrif te lees, nie net ‘n vers of twee buite konteks nie.

Ons hou van ons verse. “Ja, Ek ken die planne, wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. Dit is planne van voorspoed en nie teenspoed nie, om aan julle ‘n toekoms en hoop te gee.” – (Jeremia 29:11) Ons hou van hierdie vers, maar die meeste van ons het geen idee wat in die res van die hoofstuk aangaan nie en aan wie dit gegee is nie.

Nog ‘n voorbeeld is Jesus se opdrag aan Sy dissipels in Lukas 9:12: “Moet niks vir die pad saamneem nie, nie ‘n wandelstok of ‘n reissak of brood of geld of twee kledingstukke nie. Sommige glo dat hierdie teks sê dat God armoede van sy werkers verwag, maar luister net wat Jesus in Lukas 22:35 – 36 sê”: “ Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie, reissak en sandale, het julle iets kortgekom?” Niks nie!” Toe sê Hy vir hulle: “Wie nou egter ‘n beursie besit, moet dit saamneem en so ook ‘n reissak. En wie nie ‘n swaard het nie, moet sy bo-kleed verkoop en een koop. Hierdie is ‘n maklike fout om te maak tensy jy ‘n toegewyde student van die Skrif is.

Dit bewys weereens die waarheid van Jesaja 55:8: “Ja, My planne is nie julle planne nie en julle paaie is nie My paaie nie,” is die uitspraak van die Here. Ons hou van ons godsdiens maklik, verteerbaar. Dit moet min van ons vereis en vinnig resultate lewer.

Bly naby aan die Vader, bid voortdurend vir jou broers in die geloof en bly gehoorsaam. Mag die Here jou vreugde in Sy diens gee en mag jy ander in die Naam van Jesus seën.

Hier is ‘n kragtige vers om mee af te sluit: “Jou vader, het hy nie maar net geëet en gedrink en reg en geregtigheid beoefen nie? Toe het dit met hom goed gegaan. Hy het die reg van magteloses en behoeftiges gehandhaaf – toe het dit goed gegaan. Is dit nie wat dit is om My te ken nie?” is die uitspraak van die Here. (Jeremia 27:16)


Waarna kyk nie-Christene?


Die Barna-groep het navorsing gedoen oor waarna nie-Christene kyk, as hulle met ‘n persoon oor geloof praat. Ons sou dink dit mag voldoende kennis wees om al hulle vrae te beantwoord of een of ander verhouding met hulle. ‘n Mens sou glo dat as hulle iets in gemeen het, soos ras of geslag of ouderdom, dit baie sou help.


Barna se bevinding is dat die belangrikste eienskap is om te luister sonder om te oordeel. Kom ons kyk ‘n bietjie dieper hierna:


1. Dit beteken dat jy luister. Jy wag nie net vir jou beurt om te praat nie. Jy is waarlik betrokke. Jy laat hulle toe om te praat totdat hulle jou nooi om te reageer.

2. Jy het deernis met wat hulle sê. Jy kan deernis betoon sonder om noodwendig saam te stem. As jy reageer, begin met deernis.

3. Jy kyk na hulle deur die oë van God. Hy sien hulle as iemand, wat baie kosbaar vir Hom is. Vertel ook vir hulle wie jy was en waar jy was voordat jy na God deur Jesus gekom het.


Dit is in wese wat dit beteken om nie te oordeel nie. Dit beteken nie jy raak van jou onderskeidingsvermoë of oortuigings ontslae nie. Dit is net die afwesigheid van veroordeling. Ons lees gereeld dat Jesus nie gekom het om te oordeel nie, maar om te verlos. Baie Christene glo egter dat die enigste manier, waarop ‘n persoon gered kan word, is deur hom en sy optrede te veroordeel.


Hierdie is ‘n aaklige ding om te ondervind. Tragies is dat ons hierdie houding ook kry by mense, wat sê dat hulle Christene is. Ons het almal ‘n begeerte om genade te ontvang. Hierdie is ‘n groot krag, wat deur Jesus self op aarde neergelaat is. Daarom is dit so tragies dat die laaste plek waar ons genade kry, dikwels by Jesus se volgelinge is.


4. As jy reageer, begin jy by genade en werk dan verder na die waarheid. Die dinamika van die evangelie is beide genade en die waarheid – albei ewe belangrik. Die waarheid sonder genade is bloot veroordeling; genade sonder die waarheid is bandeloosheid of sedeloosheid. Ten opsigte van evangelisasie het Jesus met genade en aanvaarding begin. So het Hy die reg verdien om gehoor te word. Daarna gaan Hy na die relevante waarheid vir hulle lewe.


Kyk ons na Jesus en die Samaritaanse vrou by die put, het Jesus begin met radikale kulturele aanvaarding en die afbreek van mure, wat verhoudings onmoontlik gemaak het. Eers daarna het Hy by haar probleem uitgekom. Kyk ons na Jesus se hantering van die vrou, wat aan owerspel skuldig was, het Hy eers diegene, wat reg was om haar te veroordeel, laat gaan en haar oortuig dat Hy haar nie veroordeel nie. Daarna sê Hy vir haar: Gaan en moet van nou af nie meer sondig nie. (Johannes 8:11)


Ons kry dieselfde benadering tot Saggeus. Jesus gaan eet by sy huis, waar hulle mekaar leer ken. Eers daarna praat hulle oor Saggeus se finansiële wandade.


Die enigste tyd waar Jesus hierdie patroon van begin by genade en aanvaarding en werk dan verder na die waarheid verbreek het, was waar hy die vromes, wat gedink het dat hulle geestelik reg is, gekonfronteer het. Dan het Hy by die waarheid begin.


Kom ons gaan na die begin. Barna se navorsing wys dat waarvoor nie-Christene by Christene soek, as hulle oor geloof praat , is “Luister sonder om te oordeel”. Nog ‘n ontstellende bevinding uit hierdie navorsing is dat nie-Christene sê dat hulle hierdie eienskap in slegs 3% van Christene kry.


Lei met integriteit

God is baie besorg oor sy reputasie. Esegiël 20:24 is ‘n goeie voorbeeld: Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer ek met julle handel ter wille van my Naam en nie ooreenkomstig julle bose optrede, julle wangedrag nie, huis van Israel. Dit is die uitspraak van my Heer, die Here. Maar God is nie net besorg oor Sy eie reputasie nie, maar ook oor die reputasie van die kerk. As Christene verteenwoordig ons Christus op aarde. Ons moet baie versigtig wees om Hom nie in die skande te steek nie. Dit geld vir alle gelowiges, maar veral vir leiers in die kerk. Ons moet mense van integriteit wees. Die wêreld kyk hoe ons reageer. Met ons optrede kan ons mense na Jesus toe trek of ons kan hulle wegstoot, as ons nie met integriteit optree nie.


Om te lei met integriteit moet ons:


1. Die waarheid praat

Bo alles, my broers, moenie sweer nie en moet ook geen ander eed aflê nie. Maar laat julle “ja” ‘n “ja’ wees, en julle “nee” ‘n “nee”, sodat die oordeel julle nie tref nie. (Jakobus 5:12) Jy moenie ‘n eed aflê, as jy nie genoeg integriteit het om te doen, wat jy sê nie. As jy dit nie kan doen nie, het jy ‘n probleem. Paulus sê basies dieselfde ding in 1 Korintiërs 1:17 – 19: Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig – nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus Sy krag ontneem word nie. Die kruis van Christus is immers dwaasheid vir diegene, wat verlore gaan, maar vir ons, wat verlos word, is dit die krag van God, want daar staan geskryf: “Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak en die insig van die verstandige verwerp. Jesus sê dieselfde in Sy bergrede: Laat die woord “ja” by julle werklik “ja” wees. En julle “nee” “nee”. Meer as dit is uit die bose. (Matteus 5:37) As jy ‘n dissipel van Jesus is, het jy ‘n geloof wat sê wat jy bedoel en bedoel wat jy sê.


2. Deel die waarheid volledig

Jy jok as jy doelbewus inligting vervals of versteek. As jy doelbewus ‘n deel van die waarheid weerhou, jok jy. ‘n Halwe waarheid is ‘n hele leuen. As jy ‘n mens van integriteit is, speel jy nie speletjies met die waarheid nie. Wie met sy oog knik, veroorsaak droefheid en wie dwase lippe het, kom tot ‘n val. (Spreuke 10:10) Daar is baie maniere waarop ons die waarheid kan weerhou. As ons wegskram van hierdie moeilike gesprekke, is ons nie mense van integriteit nie.

Soms weerhou ons die waarheid omdat ons jammer is vir die persoon. Dit werk nie. Wie ‘n mens teregwys, ervaar daarna goedgesindheid, meer as hy wat vlei met die tong. (Spreuke 28:23) Die waarheid maak dikwels seer, maar oneerlikheid laat blywende littekens.


3. Gebruik die waarheid taktvol

Die Bybel sê nooit dat ons die waarheid soos ‘n knuppel moet gebruik nie: Terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, sal ons in alle opsigte na hom toe groei. (Efesiërs 4:15) Mense verander makliker as die waarheid in liefde toegedraai is. Die waarheid sonder liefde word altyd as ‘n aanval gesien. Sonder liefde beteken ons optrede niks nie. As jy nie die mense met wie jy die waarheid deel, lief het nie, hou op om die waarheid met hulle te deel. Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ‘n klinkende simbaal geword. (1 Korintiërs 13:1) Die feit dat jy die waarheid praat, bring geen blywende vrugte nie. Net omdat jy gewillig is om die waarheid te deel, beteken nie dat die ander persoon gereed is om dit te hoor nie. Jy kan jou woorde gebruik om te genees of om seer te maak.


4. Leef die waarheid voortdurend

Integriteit beteken nie dat jy 80% van die tyd eerlik is nie. Gedeeltelike eerlikheid is oneerlikheid. As ons toelaat dat die Skrif ons lewe deurdrenk, sal meer mense na ons luister as ons oor Jesus praat.

Integriteit is ‘n vereiste vir leierskap, want die fondament vir leierskap is vertroue. As mense jou nie vertrou nie, kan jy hulle nie lei nie.

Luister net wat sê die Bybel oor Dawid: Dawid het hulle met ‘n opregte hart opgepas; met die vaardigheid van sy hande het hy hulle gelei. (Psalm 78:72) Hier sien ons twee belangrike komponente van leierskap: integriteit en bekwaamheid. Beide is noodsaaklik vir leierskap. Die een sonder die ander een stuur op ‘n ramp af.


Kerkleiers moet met integriteit en bekwaamheid lei.

bottom of page