top of page
deur Coen Slabber

Leier Nuusbrief Januarie 2021 deel 2


Kenmerke van gemeentes wat weer sal bou


Vir die afgelope paar maande doen gemeentes alles moontlik om waarskynlik die moeilikste seisoen in bediening te navigeer. Dit was beslis ‘n ingewikkelde tyd. Nou is dit tyd dat gemeentes weer moet bou.

Die meeste gemeentes se kerkgeboue is oop of besig om oopgemaak te word. Dit is ‘n goeie begin. Intussen werk taakspanne daaraan om eredienste van ‘n hoë gehalte te lewer. Leiers is uitgeput. Hoekom? Omdat die resultate nie voldoen aan hulle verwagtings nie. Vasberadenheid is nou meer as enige tyd vantevore nodig.

Om weer te bou, verwys nie hier na fisiese geboue nie. Dit gaan oor die bou van die liggaam van Christus - om dit sterker en groter te maak, een persoon op ‘n slag. Dit het niks met selfonderhouding te doen nie, maar alles met God se doel en mag.

Leiers wat bou, treur nie oor hulle verliese nie, maar dank God vir wat hulle het en gebruik hulle gawes en hulpbronne met wysheid.

Gemeentes wat bou, bou nou. Hier is ‘n paar kenmerke van hierdie gemeentes:


1. Hulle meet nie toekomstige resultate deur dit te baseer op prestasie in die verlede nie.


Hierdie is ‘n lokval, wat ons gou kan ontmoedig. Begin met wat jy het en nie met wat jy gehad het nie. Jy mors net jou energie. Ons moet ook versigtig wees om dit wat God in die toekoms kan doen, onderhewig te maak aan ons tydskale. Die kerk is swaar getref, maar sal weer terugkeer. Die potensiaal is daar dat die kerk selfs sterker as vantevore kan terugkom.


2. Hierdie gemeentes neem besluite sonder dat hulle om die hoek kan sien.


Ons hoor dikwels die klagte dat ons nie goeie besluite kan neem, as ons nie weet wat in die toekoms gaan gebeur nie. Party leiers sê dat dit voel asof hulle blind vlieg. Hier is ‘n moontlike oplossing:

  • Ontwerp jou strategiese plan vir korter tydperke. Dit beteken ons moet elke 3 tot 6 maande beplan – geen planne vir vyf jaar nie.

  • Jou beplanning moet in lyn met jou langtermyn visie wees. Dit verseker dat jy nie van koers af dwaal nie. Jou visie is jou kompas.

  • Neem korttermyn operasionele besluite. Dit verminder die negatiewe gevolge as jy dalk ‘n fout maak.

  • Jy kan gouer aanpas en koersregstellings maak.

  • Neem ‘n besluit, nadat jy gedink en gebid het.

  • Moenie vasval, terwyl jy wag vir ‘n volmaakte en duidelike besluit nie - daar is nie so ‘n besluit nie.

3. Hierdie gemeentes het ‘n optimistiese en geloofvervulde gees, wat twyfel en ontmoediging oorwin.


Leiers moet mense vorentoe lei met ‘n betroubare optimistiese gees. As jyself nie optimisties is en nie hoop vir die toekoms het nie, kan jy nie ander lei nie.

  • ‘n Optimistiese boodskap van hoop kom vanuit ‘n optimistiese en positiewe geloolfgevulde gees. Dit begin by jou. Jou uitkyk op die lewe word bepaal deur hoe jy dink, hoe jy die lewe sien en jou wandel saam met God. Optimisme is ‘n keuse en God is ons toekomshoop.

  • Visie bring hoop. Jy moet fokus op iets groter as jouself.

4. Hulle skep ‘n gesonde en produktiewe spankultuur, wat probleme oplos.


Gesonde spanne aanvaar uitdagende probleme met vasberadenheid, want hulle staan saam. As een persoon swak is, is ‘n ander een sterk. Tans staan kerkleiers voor baie probleme. Drie van die belangrikste probleme is:

  • Verlies aan momentum - die sluiting van fisiese geboue het die wind uit ons seile geneem.

  • Verlies aan vrywilligers - van die beste vrywilligers is nog nie bereid om terug te kom nie.

  • Verlies aan voorspelbaarheid - ons kon nog nooit die toekoms voorspel nie, maar sekere dinge was tog voorspelbaar. Dit is nie meer die geval nie.

Oplossings kom nie altyd vinnig en maklik nie, maar as ‘n oplossing gevind is, beweeg hierdie spanne vinnig. Niks trek hulle aandag van die najaag van die oplossing af nie. Soms maak hulle foute, soms gaan dit maar stadig, maar hulle beweeg vorentoe.


5. Hulle aanvaar en implementeer verandering met entoesiasme


Die potensiaal van die gemeente om in die toekoms te floreer, hang grootliks van sy gewilligheid om te verander af. Dit is egter baie belangrik dat dit die regte veranderinge moet wees. Baie mense bied weerstand teen verandering. Mense is bang vir die onbekende. Daarom moet die rede vir die verandering baie duidelik gestel word. Ook die plan om daar uit te kom, moet duidelik wees. Moenie verander net om te verander nie.

Verbetering is noodsaaklik. Maak seker dat die eindresultaat beter en nie net anders is nie. As jy iets verander en niemand is ontsteld nie, het jy iets verander wat nie saak maak nie.


Gemeenskapsbetrokkenheid


Die meeste gemeentes fokus op gemeenskapsbetrokkenheid (uitreik) en die opvolg van nuwe besoekers. Dit is net so belangrik dat huidige lidmate aan die leierskap en mekaar verbind voel. Hier is vier pilare vir gemeenskapsbetrokkenheid.

1. E-posse


Deur relevante en tydige e-posse te stuur, is ‘n doeltreffende manier om belangrike inligting te kommunikeer. Dit is ook ‘n goeie manier om stories te vertel oor wat God in en deur die mense van die gemeente doen. Jy kan dit ook gebruik om lidmate aan die gemeente se visie te herinner en elkeen se betrokkenheid daarby te beklemtoon. Sekere e-posse word aan al die lidmate gestuur, maar jy moet ook spesifieke lyste skep vir meer geteikende kommunikasie. Hierdie geteikende lyste verseker dat almal die inligting kry wat hulle moet kry en nie onnodige inligting kry nie.

2. Sosiale media


Jy kan sosiale media gebruik om gebeure bekend te stel. Jy kom uit by die breër aanlyngemeenskap. Jy kan ook ‘n private groep skep vir jou lidmate om interne kommunikasie te deel. Dit is eenvoudig en doeltreffend. Facebook-groepe maak meer gesprekke tussen lede moontlik. Jy kan hierdie groepe gebruik om gebedsversoeke bekend te maak en so kan mense mekaar aanmoedig en ondersteun.

3. Teksboodskappe


Hierdie is die vinnigste manier om mense met tydsensitiewe inligting te bereik. Tydens COVID-19 is teksboodskappe effektief gebruik om kort boodskappe uit te stuur om lidmate daaraan te herinner dat hulle nog deel is van die groter geloofsgemeenskap.


4. Webblaaie


In vandag se digitale wêreld is die webblad die voordeur van die gemeente. Daarom moet jou webblad fokus op potensiële gaste. Die webblad is ook die sentrale spilpunt waarheen lidmate gaan om te leer van toekomstige gebeure, om deel te neem aan aanlynbydraes, om by ‘n klein groep of diensgroep aan te sluit, om met voltydse personeel te verbind en om die inligting wat hulle nodig het, te kry.

Met hierdie vier basiese strategieë vir gemeenskapsbetrokkenheid skep jy baie raakpunte met die lidmate om hulle te help om by die gemeente betrokke te wees, al is hulle uitstedig. Deur voortdurende, relevante en tydige inligting te verskaf, voel die lidmate dat hulle teenwoordigheid in die gemeente waardeer word.


Vrae oor geld


Hier is ‘n paar vrae oor geld.

1. Wat is die belangrikste ding wat God wil hê ons geld moet ons leer?


Probleme ten opsigte van geld begin nie met geld of ons begrotings nie, maar by oorgawe. Ons sal nooit geld gebruik op die manier wat dit veronderstel was om gebruik te word en ons sal nooit slegte gewoontes oor geld verbreek, voordat ons nie verstaan dat dit nie oor ons gaan nie. Geld is in die eerste plek nie gemaak om alles wat ons begeer vir ons te gee nie. As ons nie by oorgawe begin nie, sal ons nooit ons geld gebruik soos God dit bedoel het nie. Wat ons geldsake beheer, is dikwels ‘n gees van eienaarskap en nie een van oorgawe nie. Die eerste stap in die hantering van ons geldsake is oorgawe aan Iemand wat groter as ek is.

2. Hoe kan ek die regte perspektief op geld behou?


Ons glo dikwels geld is aan ons gegee om daarmee te maak wat ons wil. Die kern is om te onthou dat die geld nie aan ons behoort nie. God het dit aan ons gegee om vir Sy doel en plesier te gebruik. Dit is makliker om vir onsself iets te koop as om dieselfde bedrag te gee aan iemand in nood. Hoekom het ons meer klere as wat ons nodig het of eet ons meer as wat vir ons gesond is? Hoekom is ons jaloers op ryk mense? Hoekom het baie van ons meer skuld, as wat ons behoort te hê. Hoekom het duur karre en huise fisiese bewyse van ons sukses geword? Hoekom is so min van ons tevrede met wat ons het en droom ons van meer en groter?


Is dit dalk dat ons nie meer glo dat God ons gemaak het vir iets groter as onsself te leef nie? Ons lewens is bedoel om gevorm te word deur iets groter as ons klein plannetjies. Ons geld is bedoel om aan Iemand groter verbind te word.

3. Wat is die verband tussen ons geld en ons identiteit?


Geld is een van die belangrikste dinge hoe jy wys wie jy dink jy is. Die identiteit wat jy aan jouself gee, word baie goed gedemonstreer deur hoe jy geld gebruik. Hoekom gooi baie mense geld rond? Hoekom praat ander so baie oor hulle barmhartigheid? Hoekom is so baie mense vasgevang in geldvrese? Hoekom is party mense nooit tevrede met wat hulle het nie en ander is tevrede met die bietjie wat hulle het?


Die antwoord op al hierdie vrae is identiteit. Ons maak dit duidelik dat wie ons is, berus op hoe ons geld gebruik. Ons moet Bybels dink oor ons identiteit. Dan sal jy reg lewe as dit by geld kom.

4. Wat is van die inherente gevare van geld waarteen die Bybel ons waarsku?


Geld kan jou seën of vervloek. Dit kan ‘n instrument in die God van genade se hande wees, of dit kan lei tot gevaarlike dinge. Daar is twee geestelike kante aan geld. Elke kant roep jou. Elke kant het ‘n visie en beloftes. Elke kant vra nie net nie jou geld nie, maar ook die trou van jou hart. Hierdie stryd oor die twee kante van geld speel in die hart van elke mens af. Gaan geld vir jou ‘n seën of ‘n vloek wees? Dit is ‘n vraag wat ons gereeld moet antwoord, want dag na dag word ons met vals beloftes gekonfronteer.

Jesus het dikwels oor geld gepraat, want Hy het die krag en belang van geld besef. Hy weet ons word maklik verlei. Ons loop op die pad van seën of vloek. Baie dinge in ons lewens is die gevolg van watter pad ons kies. Om die pad van seën te loop, vereis meer as goeie teologie en ‘n kennis van die Bybelse opdragte en beginsels. Dit vereis baie genade.

5. Wat is die regte manier om oor ons geld te dink?


Jakobus stel dit baie mooi: Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie (1:17). Ons leef in ‘n materialistiese kultuur, maar ons moet erken dat wat Jakobus sê, waar is. Elke goeie ding in die lewe is die gevolg van die liefdevolle goedheid van Hom wat in beheer van die besonderhede is. Hy seën ons met dinge wat ons nie verdien nie. Geld is veronderstel om te funksioneer as ‘n pyl, wat wys na God se goedheid en trou.

6. Wat openbaar ons verhouding met geld oor onsself?


As ons ekstra geld het, wat wil ons koop? Maak dit jou gelukkiger om jou geld vir jou eie doeleindes te gebruik of vir die werk van God se koninkryk? Is dit vir jou makliker om te ontvang as om te gee? Spandeer jy meer as wat jy moet en sê vir jouself jy sal gee as jy meer het? Word die vlak van jou tevredenheid deur jou beursie bepaal?


Geld is ‘n akkurate venster om te sien wat werklik vir jou belangrik is. Ons is baie geneig om meer belang te heg aan dinge wat werklik nie so belangrik is nie. Hierdie dinge begin dan die gedagte, begeertes en trou van ons hart oorheers. As jy in alle nederigheid bereid is om na jou begeertes en jou gebruik van geld te kyk, sal jy sien wat stry vir die heerskappy van jou hart.

(Ek het van David Tripp Fuller se boek Redeeming Money: How God reveals and Reorients our Heart gebruik gemaak.)

Commentaires


bottom of page