Leier Nuusbrief Augustus 2021 deel 1
top of page

Leier Nuusbrief Augustus 2021 deel 1


Hoe motiveer ek ander

Om personeel en vrywilligers te motiveer is belangrik. Dit bring onmiddellik die vraag na vore: Hoe moet ek dit beter doen? Die neurowetenskap kan ons hier help. Dit identifiseer vyf domeine, wat gedrag beïnvloed. Hierdie domeine beïnvloed breinfunksionering en dus hoe ons werk en bedien.


Hulle is:

  • Status – ‘n gevoel van belangrikheid relatief teenoor dié om ons

  • Sekerheid – ‘n gevoel van voorspelbaarheid oor die toekoms

  • Outonomie - beheer oor gebeure

  • Verhoudings – ‘n gevoel van sekerheid van diegene om jou

  • Regverdigheid – ‘n gevoel dat jy regverdig behandel word

As ‘n personeellid of vrywilliger dit in sy bediening ervaar, vermeerder dit ‘n chemikalie – dopamien – in die brein. Dopamien het ‘n positiewe effek op ons gemoed en denke. As ‘n leier doelgerig aan hierdie behoeftes van diegene om hom probeer voldoen, sal hy positiewe resultate sien in die volgende gebiede:

  • Samewerking

  • Intrinsieke motivering

  • Produktiwiteit

  • Die bestuur van verandering en

  • Gesonde verhoudings

Gebeur dit nie, kan dit ‘n teenoorgestelde negatiewe effek hê.


Hoe kan ‘n kerkleier sommige van die behoeftes van sy gemeente en span hanteer?

Status

Leer dat elke persoon intrinsieke waarde het en waardevol is in God se oë. Net omdat ‘n persoon nie sekere vaardighede het nie, beteken nie dat hy in God se oë minder werd is as die talentvolles nie.

Sekerheid

Hou jou mense ingelig oor die toekoms, gee keuses aan jou personeel en vrywilligers. Gee hulle voldoende tyd om nuwe dinge te verwerk.

Outonomie

Moenie mikrobestuur nie. Gee keuses binne sekere parameters aan mense. Gee aan hulle eienaarskap van sekere besluite.

Verhoudings

Gee geleentheid aan jou span om sekere sosiale dinge saam te doen. Moedig betrokkenheid by ‘n klein groep aan. Redelikheid

Maak seker dat jy almal regverdig behandel – geen witbroodjies nie.


Motivering van ander is altyd ‘n toets vir leiers. Hierdie benadering mag ons help om meer doeltreffend en doelgerig te wees oor hoe om mense te motiveer om ‘n impak op die uitbouing van God se koninkryk te hê.


Geestelike groei

Geestelike groei is ‘n geleidelike proses van ontwikkeling. Laat ons dan verder gaan as die eerste beginsels van die boodskap aangaande Christus en voortgaan na volwassenheid, sonder om weer die fondament te lê. (Hebreërs 6:1) Geestelike groei is ‘n reis – dit beteken dit vereis tyd. Dit is ‘n lewenslange reis, waar God vir ons gewoontes leer om ons karakter te ontwikkel sodat ons meer soos Jesus word. Daar is geen kortpaaie nie.

Die kern van hierdie reis is dissiplines, wat ons help om geestelik te groei. Hierdie dissiplines, of gewoontes, is nie nuut nie, maar is al daar vir duisende jare. Ons is die totaal van ons gewoontes. Kerkleiers moet gemeentelede leer om hierdie dissiplines op hulle eie te beoefen.

Rick Warren identifiseer vier dissiplines, wat noodsaaklik is vir geestelike groei. Hierdie is nie die enigste dissiplines nie, maar die belangrikste. Daar is geen verrassings in hierdie lys nie. Hulle is al oor jare beproef en het oor geslagte heen Christene gehelp om te groei.


1. Lees daagliks die Bybel


Mense in ons kerke het dringend die waarheid nodig. Die waarheid stel ons vry – vry van bekommernisse, vry van verwagtings van ander en vry van skuldgevoelens. Toe het Jesus vir die Jode, wat Hom geglo het, gesê: “ As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels en julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak.” (Johannes 8:31 – 32)


2. Bid daagliks


Dissipels spandeer tyd saam met Jesus. As julle in My bly en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil en dit sal met julle gebeur ... dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees. (Johannes 15:7 – 8 ) Ons word dissipels deur vrug te dra. Ons dra vrug as ons in Jesus bly en as Sy woorde in ons bly. Ons luister na God deur Sy Woord en ons praat met God deur gebed. Om geestelik te groei, het ons beide dissiplines nodig.


3. Dra gereeld by


Om by te dra, herinner ons gereeld daaraan dat alles, wat ons het, aan God behoort. Hy besit nie net ‘n tiende nie, maar Hy alles. As God nie die Here van ons besittings is nie, is Hy ook nie ons Here nie. Te veel mense in ons gemeentes is behep met hulle besittings. As ons gereeld bydra, hou ons nie so vas aan wat ons besit nie, maar ons plaas God eerste in ons lewens.


4. Neem weekliks aan die gemeenskap van gelowiges deel


Ons het ander gelowiges in ons lewens nodig as ons wil groei. Weeklikse eredienste is nie genoeg nie. Betekenisvolle verhoudings ontwikkel nie as mense net die gesamentlike erediens bywoon nie. Mense het geleenthede nodig om by ander betrokke te raak. Klein groepe is waarskynlik die beste omgewing waarbinne mense gesonde verhoudings kan ontwikkel.

Ons as mense is bekommerd oor hoe vinnig mense groei, maar God is bekommerd oor hoe góéd hulle groei. As God ‘n paddastoel wil maak, het Hy ses uur nodig, maar as Hy ‘n eikeboom maak, gebruik hy sestig jaar. As ons hierdie vier dissiplines gebruik, sal ons soos eikebome groei.


Tekste uit Romeine wat jou help om die hele Bybel te ondersoek


Nuwe volgelinge van Jesus moet aangemoedig word om seker Bybeltekste te memoriseer. Baie van hierdie verse sal uit Paulus se brief aan die Romeine kom. Dit is baie goed om te begin met tekste wat ‘n “omdat” of “daarom” in hulle het. Voorbeelde is: Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. (Romeine 5:1)


N. T. Wright identifiseer ‘n paar gedeeltes in Romeine, wat van groot hulp sal wees in ons pogings om die Bybel beter te verstaan.


1. Algemene openbaring (Romeine 2:14 – 15)


Want wanneer die heidene, wat nie oor die wet beskik nie, van nature tog die vereistes van die wet nakom, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle nie die wet nie. Hulle wys duidelik dat die uitvoering van die wet in hulle harte geskryf staan en hulle gewetens bevestig dit; en hulle teenstrydige gedagtes sal hulle soms aankla en soms verontskuldig. (Romeine 2:14 – 15)


Hierdie gedeelte bring onmiddellik sekere vrae na vore: Is dit ‘n voorbeeld van algemene openbaring van God – die basiese kennis waartoe almal toegang het? Hoe word die wet op ons harte geskryf? Dit herinner ons ook aan Jeremia 31 en ander “op die hart geskryf”- tekste. Hierdie gedeelte laat ons nie net dieper in Romeine delf nie, maar aan temas dwarsdeur die skrif.


Hoe moet ons Ou-Testamentiese figure verstaan – tekste uit Romeine

Wat sal ons dan sê het Abraham, ons stamvader na die liggaam, verkry? As Abraham inderdaad op grond van sy dade regverdig verklaar is, het hy rede om hom daarop te beroem. Maar nie voor God nie. (Romeine 4:1 – 2).


Twee vrae kom na vore:

  • Wat beteken dit as die skrywer sê: ons stamvader na die liggaam?

  • Is Abraham eenvoudig ‘n Ou-Testamentiese voorbeeld, soos Dawid, later in die hoofstuk?

Deur op die verhale in die Skrif te leun, gee Romeine aan ons ‘n metode om die Bybel as geheel te verstaan.

2. Maak dinge reg


Ons weet wel dat die wet geestelik is, maar ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde. Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil , doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek. (Romeine 7:14 – 15)


Dit is maklik om my in hierdie gedeelte te plaas, want dit resoneer met die stryd, wat soms in my woed, maar ons moet aanpas by die breër argument in Romeine 6 – 8. Ons moet die breër storie, wat Paulus ons leer, volg. Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1). Waarheen verwys daar is dan nou? Dit verwys dikwels terug, maar hier volg die beredenering in die volgende verse. As ons dit só verstaan, sien ons die wonder van God se werk om dinge reg te maak.

3. Maak sin van die uitverkiesing


En diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. (Romeine 8:30)

Verloor ons iets in hierdie teks, want ons weet nie wat verheerlik in ons tyd beteken nie?

Hierdie is wonderlike gedeeltes, wat vrae by ons laat opkom. Dit moet lei tot ‘n dieper studie van Paulus se brief aan die Romeine, maar ook van die res van die Skrif.

bottom of page