Leer ’n nuwe taal aan, Jesus s’n
top of page

Leer ’n nuwe taal aan, Jesus s’n


In sy nuutste Goeie Nuus, skryf Stephan Joubert oor hoe ons Jesus se taal kan aanleer.
Leer ’n nuwe taal aan, Jesus s’n

Die taal wat jy gebruik om die werklikheid mee te beskryf, verander gou-gou in jou eie werklikheid. Kyk maar na ’n uitdrukking soos: “Die corona-virus gaan nog die land vernietig.” Of: “Ons land sit op ’n tydbom.” As jy dit gedurig as hoofopskrifte vir jou eie opinies of ervarings gebruik, dan dwing dit jou om gedurig nuwe probleme te identifiseer, wat hoort onder sulke opskrifte.


Sê nou jy sou taal kies, wat eie is aan navolgers van Jesus. Sê nou jy sou vra of sulke tydbomtaal jouself of ander mense bemagtig of ontmagtig? Sê nou jy sou vra wat jou rol op sosiale media platforms is, asook in ander gesprekke wat oorheers word deur sulke negatiwiteit? Wat sou gebeur as jy kies om sulke saamstemspirale te dwarsboom met iets soos: “Dit mag dalk waar wees, maar ekself het gekies om deel te wees van die hemel se brandweerspan.” Of: “Daar is orals tydbomme, maar ek kies elke dag om ’n bomontlonter te wees in die Here se span.”


Verseker sal elke realis dadelik uitroep: “Naïef!” “Snert!” Wel, toe nie … nie as jy Jesus navolg nie. Jy is nou deel van ’n ander werklikheid en ’n ander verhaal - Syne! Jy volg Hóm. Hy is water op die vuur. Hy is lewe wat die dood troef. Daarom leer jy gedurig Jesus se soort taal aan. Jy praat agter Hom aan, nie agter mense aan nie. Die vraag is nie of dit help dat jy lonte probeer blus nie, maar eerder of dit die regte manier is om te praat. As dit is, dan doen jy dit, selfs al doen jy dit alleen! Jy doen reg en jy praat reg - op die Jesus-manier.

bottom of page