top of page

Leer by die Koning wat dien


Ek onthou die verhaaltjie van ’n koning wat baie beïndruk was met die advies wat ’n wyse man vir hom gegee het. Toe sê die koning: “Ek sal vir jou enigiets gee wat jy wil hê.” Die wyse man wou niks hê nie. Maar die koning het aangehou. Uiteindelik antwoord hy toe: “Daar by my huis is baie muggies en vlieë, wat my pla. As u dit van my af kan weghou, sal ek dankbaar wees.” Die koning het egter nie vir so ’n vernederende werk kans gesien nie. Hy het gedink die wyse man soek geld of eer, maar die wyse man wou eintlik vir sy koning leer wat nederigheid is.


In die geval van ons Koning is dit presies andersom. Dit is Jesus, wat juis vir ons kom leer wat nederigheid is. Jesus het Sy Goddelike eer en glorie vir ‘n swak aardse bestaan ingeruil. Hy het die aanbidding van die hemelse skares opgeoffer om soos ’n slaaf tussen ons te wees. Sy aardse vriende was sondaars, vergete mense en doodgewone mense. Sy kopkussings was die klippe van die veld. Sy finale “uithangplek” was ‘n houtkruis in Jerusalem, waar Hy al ons gemors op Sy eie skouers getel het. Jesus het vir ons kom wys dat ware nederigheid is om die minste te wees. O ja, en om op te kyk na God en na ander mense. Doen dit!

Comments

Couldn’t Load Comments
It looks like there was a technical problem. Try reconnecting or refreshing the page.
bottom of page