Leeg van myself
top of page

Leeg van myself


Hoe lyk ware sukses? Stephan Joubert help ons in hierdie artikel om na sukses te kyk vanuit die Bybel.
Leeg van myself

Lees Handelinge 3:9

‘The world revolves around me.’ Dit lees ek onlangs op die T-hemp van iemand anders. Ware woorde vir te veel mense. Dit gaan net oor onsself. Godsdiens bevry mense nie noodwendig van selfsug nie, soos wat ons gister ook gesien het. Baie misbruik maar net godsdiens om al die aandag op hulleself te hou. Dit gaan oor hulle groot getuienisse; hulle suksesse op die Here se pad en oor alles wat hulle vir die Here doen. Daar’s heeltemal te veel sulke “Christelike celebrities’ tussen ons.


Ware sukses is egter om uit die pad te staan sodat die Here sy werk kan doen. Christene in wie die Gees volspoed werk, het die klem verskuif vanaf Selfsug na Self-opoffering. Hulle T-hemde sê: ‘Die wêreld draai om my Heer en rondom almal wat Hy oor my pad stuur om te dien!” Sulke Christene praat minder oor hulleself en hul eie “geestelike prestasies” en meer oor die Heer. Hulle stel nie in krag belang nie, maar in diensbaarheid. Hulle is nie verslaaf aan uiterlike resultate nie, maar aan meer liefde vir hul Heer. Sy goedkeuring is al wat tel. Groter nederigheid is die geestelike hoogtepunt van elke Geesgevulde se lewe. Dit moet ons droom ook wees om klein in die Gees se hande en tussen ander te wees sodat Hy ons op groot maniere kan gebruik.


Gebed

Laat ek vandag minder wees en U meer, Christus my Heer. Amen.

bottom of page