top of page

Leef eg, dan leef jy reg


Om skynheilig te wees, is om voor te gee wat jy nie regtig is nie. Die Encyclopedia Britannica beskryf ’n skynheilige as “a person who claims or pretends to have certain beliefs about what is right but who behaves in a way that disagrees with those beliefs”. Kom ons wees eerlik: Ons almal was al skynheilig. Ons almal het al in stryd met ons eie waardes en beginsels opgetree. Dit is egter iets anders om voltyds skynheilig te leef. Mense, wat twee gesigte het, een vir die kerk en ’n ander een vir die werk, doen dit. Mense, wat geheime verhoudings buite hul huwelik in stand hou, doen dit. Leraars, wat Sondae preek, maar wat self nie meer glo nie, doen dit. Swendelaars, wat voorgee om ander mense met hul geldsake by te staan, maar wat hulle verkul, doen dit. Mense, wat voorgee om almal se vriende te wees, maar wat hulle agteraf slegmaak, doen dit ook.

 

Om skynheilig te leef, skreeu ten hemele. Dit grief God. Moenie so leef nie. Wees opreg. Wees absoluut opreg, wanneer jy alleen is. Onthou jou lewe is altyd oop en bloot voor God. Leef jou lewe met integriteit in Sy teenwoordigheid. Dan sal jy steeds reg optree, wanneer jy jouself tussen ander mense bevind. Dan sal jy nie ’n voltydse kulkunstenaar wees, wat voorgee om iemand te wees wat jy nie regtig is nie. Leef eg, dan leef jy reg.

Comments


bottom of page