Leef daardie groot “V” yskoud
top of page

Leef daardie groot “V” yskoud


Daardie groot “V” is lewensgevaarlik. Ek praat van vrees, daardie soort wat al jou hoop en energie steel. Slegte vrees is hoog op die gewildheidsleer, wanneer goor emosies ter sprake is. Jy loop gedurig hierin vas, as jy in Suid Afrika bly. Elders in die wêreld is goor vrees ook gewild, veral noudat al die geweld in Israel die ganse wêreld tot stilstand geruk het.

Van slegte vrees gepraat: dit wag jou in op die mees onverwagte oomblikke en in die vreemdste plekke. Dit tref jou skielik as jy in die nag deur vreemde geluide wakker gemaak word. Dit ontmoet jou uit die bloute, as jy in die koerant van nog ‘n sinnelose moord lees. Of as vriende vir jou vertel hulle is vir die hoeveelste keer beroof. Of as jy nadink oor alles, wat nog op die mensdom wag in die toekoms.


Vrees beroof jou van al jou kreatiwiteit en hoop. Daarom mag jy nooit vrye teuels in jou lewe hieraan gee nie. Jy moet vrees vinnig vasvat, anders gaan dit jou hart en jou lewe onwettig beset en dit gaan jou lewenslange metgesel word. Sien vrees raak, wanneer dit opdaag. Arresteer dit. Gee dit weg aan die Here. Hy nooi jou uit om presies dit met enige vorm van vrees, wat jou magteloos en buite beheer laat voel, te doen. Nee, Hy verwag van jou om dit te doen. God het jou nie gemaak om bevreesd te leef nie.


Verskuif jou fokus na die Here toe. Leef in Sy lig, dan leef jyself lig. Vertrou Hom met jou eie lewe en met dié van jou geliefdes. Bid dat die Here ook húlle Rots en veilige Vesting sal wees, dat Hy hulle sal bewaar van die bose. Bid ook vir ander mense rondom jou. Ken die Here ook as die hoorder van jou gebed. Weier om benoud te leef. Weier om bang te gaan slaap. Weier om bang op te staan. Leef jou lewe met hoop dag vir dag en nag vir nag. Leef daardie goor “V” yskoud.

bottom of page