Laat staan daardie babakos
top of page

Laat staan daardie babakos


Babatjies is die wonderlikste mensies denkbaar. Daarom dat grootmense so bekommerd is wanneer babas siek word. Dan moet die dokters kom help! Maar in die kerk gee ons nie so baie om dat gelowiges lewenslank geestelike babas bly nie. Trouens, baie gemeentes se strukture is so ingerig dat kerkleiers van vroeg tot laat baba-oppassers is. Dit is hulle werk om geestelike bottels aan te dra. 24 Uur per dag moet al wat ’n leraar is spring om na duisende geestelike babas se selfsugtige behoeftes om te sien en om hulle gelukkig te hou. Daar is eenvoudig nie nog tyd oor om hierdie babas te leer om te groei sodat hulle self hulle eie geestelike kos kan inneem nie. Wat ‘n treurige spul! Hoor net hoe gefrustreerd is Paulus in 1 Korintiërs 3:1-3 met hierdie toestand in die kerk:

“My vriende, ek kon nie met julle praat soos met mense wat die geestelike dinge van God verstaan en so leef nie. Ek moet sowaar met julle praat soos met mense wat nie bekommerd is oor wat God wil hê nie. Julle dink net aan julleself. Julle is net soos mense wat so pas Christene geword het en nog nie mooi weet wat Jesus van julle verwag nie. Geestelik is julle soos ‘n pap babatjie. Soos ‘n pap babatjie net melk kan inkry, sien julle net kans vir die heel eenvoudigste geestelike boodskappies. Enigiets meer ingewikkeld is vir julle te veel. En nog steeds gaan dit so met julle, want julle stel net belang in julleself en julle menslike behoeftes. Kyk net na julle. Julle baklei soos kat en hond en gun mekaar niks nie. Bewys dit nie dat julle net aan julleself dink nie. Tree julle nie op soos mense wat eerder net hulle eie belange as God se belange kies nie?” (Die Boodskap).

Die skrywer van Hebreërs is ewe moedeloos oor die geestelike papheid van die kerk. In hoofstuk 6 vra hy gelowiges om nie vas te steek by die heel basiese dingetjies van die geloof nie. Daardie Christene met wie hy te doene het, lyk vir hom al te veel na ‘n spul ongeoefende atlete wat in die wegspringblokke vassit. Hulle hou hulle besig met “geestelike babakos,” soos gesprekke oor die doop en God se straf. Hulle kom nie by dieper geestelike dinge uit nie. Die gevolg: hulle is ‘n kinderkerk propvol geestelike babas wat net hulle eie behoeftes wil bevredig en wat met mekaar stry en baklei.

In Corona-tyd is dit skielik nie meer so maklik vir geestelike leiers om geestelike babakos aan te dra nie. Wat nou? Wel, in gelowiges is in staat om die Here selfstandig te dien; die Bybel reg te lees; vir ander mense iets te beteken; en noem maar op. Nou moet ons almal op een of ander manier leer om geestelik op ons eie voete te staan. Hoe gaan ons dit doen? Wel, hier’s goeie nuus:

  • Ons het die beste Leermeester denkbaar. Jesus sê in Johannes 14:26 vir ons dat die Heilige Gees as die Trooster by ons is om ons in die waarheid te lei. As ons ons lewe elke dag oopstel vir Sy leiding, dan sal Hy ons by Christus se waarheid hou.

  • Die Gees verander ons van heerlikheid tot heerlikheid (2 Korintiërs 3:17). Dit is die Gees se werk om ons Godwaarts te laat groei. Al wat ons moet doen, is om in sy nabyheid te wees. Dan gebeur groei vanself. Dan kan ons in hierdie tyd van Corona meer as ooit groei in ons geloof. In die Gees e nabyheid is ons soos sagte klei. Hy vorm ons. Hy verander ons in weerkaatsers van God se heerlikheid.

bottom of page