top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Laat mekaar in ’n beter toestand agter


“Laat ek jou nou die waarheid vertel … !” Wanneer iemand sulke woorde op jou loslaat, weet jy dat ’n uitgebreide lesing op jou wag oor alles, wat verkeerd is in die wêreld of in die kerk. Sulke padlangse vertellers van die waarheid bied nooit enige konstruktiewe oplossings aan nie. Hulle weet net wat alles verkeerd is. Moenie dieselfde doen nie. As jy sien iets is verkeerd, doen iets daaraan. Maak soos iemand, wat ek geken het. Hy het altyd met ’n klein sakkie gereedskap gereis, wanneer hy regoor Afrika gewerk het.


Pleks van te kla oor stukkende storte, krane en hangkaste in gastekamers of in publieke fasiliteite, het hierdie vriend ingespring en dit reggemaak. Dit was deel van sy roeping as gelowige om dinge altyd in ’n beter toestand agter te laat. Vir almal rondom hom het hy geleer om dieselfde te doen en om dinge beter agter te laat as wat hulle dit gekry het. Kom ons doen dieselfde wat mekaar betref. Kom ons laat mekaar beter agter,as wat ons mekaar aangetref het. Nee, ander mense is nie ons projekte nie - hulle is mense in eie reg, wat gedien en opgebou moet word in hul geloof. Ons doen presies dit  en ons laat hulle terselfdertyd ook toe om ons op te bou en te versterk. Dan laat ons mekaar beter agter as wat ons mekaar aangetref het.

Comentarios


bottom of page