top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Kyk terug om God se handewerke raak te sien


Lees Romeine 8:29

 

Paulus beskryf op ‘n aangrypende manier hier in vers 29-30 God se genadepad met elkeen van sy kinders. Dis ‘n pad waar Hy die inisiatief geneem het om te red, te verander, nuut te maak en ons met Jesus se heerlikheid te sëen. Daarom moet ons terugkyk oor ons lewenspad om Sy genadewerk mooi raak te sien.

 

Nou die dag vertel iemand hoe ‘n inwoner van ‘n informele nedersetting hom verduidelik het om na sy huisie toe te ry. Die pad was ingewikkeld. Toe vra die man of daar nie ‘n baken is wat hom kan help om te weet hy is op die regte pad nie. “Ja, sê die inwoner, “as jy links draai by die laaste afdraai en jy ry ‘n 100 meter, kyk dan in jou truspieël. As jy ‘n stopteken sien dan is jy op die regte pad.” En hy was doodernstig. Wat ‘n verrassende kyk na dinge… en ook na die regte pad. Soms moet jy regtig eers terugkyk, as jy wil weet of die pad voor jou die regte een is. Terloops, watter regte paaie sien jy wanneer jy terugkyk oor jou pad? Wat staan uit as die duidelikste bakens van die Here se goedheid en guns? Watter geestelike lesse, wat jy die afgelope tyd geleer het, gaan jou padwysers vir die nuwe roete, wat vandag voor jou lê, wees?

 

Gebed:

Here, dankie dat U pad met my een van genade en redding is. Amen.

Comments


bottom of page