Kyk op
top of page

Kyk op


Lees Psalm 37:24


Dis niks lekker om op die grond neer te slaan nie; veral nie as jy boonop met jou gesig eerste in die modder beland nie. Ken jy daardie gevoel? Weet jy van modder-lê? Doen jy dit deesdae gereeld? Het jy al gewoond geraak aan die seerkry-kante van die lewe? Wel, moenie dan net so bly lê nie. Draai ‘n slag om, want as jy nog kan omdraai, dan kan jy ook mos opkyk. En as jy kan opkyk, dan kan jy opstaan.


Wat sal jou laat opstaan? Nee, die regte vraag is Wie? Wel, as jy sien dat die Here deur sy Gees langs jou stukkende lewe tot stilstand gekom het, dan kan jy orent kom; elke liewe keer. Nee, die Heilige Gees is nooit so haastig dat Hy maar net aanhou met loop as jy die slag struikel en val nie. In Psalm 37 lees ek juis hoedat die Here keer op keer by sy kinders kom buk wat moedeloos, moeg en swaar verwond op die grond lê. Hy verbind hulle wonde elke keer met deernis en tel hulle op. Die Gees se hemelse genadesalf is genoeg om die seer keer op keer te verdryf. Sy spesiale nabyheid bied altyd die regte troos en genesing. Kyk net ‘n slag op en staan dan ook op. Sien God raak en skep nuwe moed.


Gebed

Ek kyk op na U, drie-enige Heer. En ek staan op. Amen

bottom of page