top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Kyk diep binne-in


In sy nuutste My Wêreld nuusbrief skryf Roedolf Botha oor hoe ons by Jesus kan leer om diep binne-in onself te kyk.
Kyk diep binne-in

Die Covid-tyd het ‘n snaakse ding aan ons innerlike wêrelde gedoen. Die meeste mense verstaan nog nie wat regtig in hulle binnestes aan die gang is nie. ‘n Mens kan dit hoor in hoe mense praat. Die meeste sê dat hulle dit nie kan kleinkry nie, want dit gaan eintlik uiterlik en finansieel goed met hulle, maar hulle verstaan nie waarom hulle dan so af en leeg voel nie. Hulle verstaan ook nie waarom hulle soms so geïrriteerd of selfs aggressief teenoor die mense naaste aan hulle reageer nie. Die probleem is mos maar dat emosies so onder die oppervlak broei dat ons nie altyd besef wat met ons aan die gebeur is nie.


‘n Fliek wat onlangs vrygestel is, het my nogal laat dink aan hoe baie mense se emosies vandag in ons samelewing daar uitsien. Dis die prent Unhinged, met ‘n uitermate oorgewig Russel Crowe, wat die rol van die antagonis vertolk. Dit handel oor ‘n vrou – gespeel deur die Suid-Afrikaanse aktrise, Carin Pistorius – wat besig is om deur ‘n egskeiding te gaan en wat geweldig hard deur die lewe gedruk word. Sy moet haar seuntjie onderhou en alleen grootmaak, nadat haar man haar met ‘n ander vrou gekul het. Heel vroeg in die fliek raak sy vanweë haar stresvolle lewe in haar motor ongeduldig met ‘n man, wat voor haar in die pad ry. Hy reageer te stadig wanneer die verkeerslig groen slaan. Sy lê op haar toeter en steek die man verby, terwyl sy hom uitskel.


Wat sy egter nie besef het nie, is dat die man in die motor (Crowe) ook deur ‘n emosioneel moeilike tyd is (die kyker weet egter nooit wat presies met hom gebeur het nie). Die lewe het hom al uiters erg gedruk, soveel so dat die vrou se ongeduld hom weer oor sy eie emosionele drumpel stoot. Hy reageer so heftig dat hy agter haar aanjaag en haar begin viktimiseer. Dinge vererger só dat hy later mense na-aan haar begin uitmoor, net om haar op haar plek te sit! Later bedreig hy haar eie en haar kind se lewe. Hierdie padwoede laat die fliek later ontaard in ‘n naelkou riller, wat jou op die punt van jou stoel laat sit.


Alhoewel die fliek niks oor Corona noem nie, kry die kyker die gevoel dat die fliek baie sê oor wat tans na Covid in mense se gemoedere aan die gang is. Emosies is sterker as rede en wanneer mense unhinged raak – dit wil sê wanneer hulle hulleself ontkoppel van hulle eie emosies sodat hulle net die druk kan hanteer, dan gaan daardie emosies ondergronds, bou stelselmatig op en bring later gedrag, wat vernietigend is na vore. Ons kan nooit ons emosies sonder gevolge ignoreer nie, al dink ons so.


Daarom is dit belangriker as ooit tevore om die gebed van selfondersoek te bid, sodat ons en ander nie die slagoffer word van dit wat binne-in ons woed nie. Hierdie gebed vind ons in Psalm 139: 23-24:


Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad.

Hierdie gebed beteken om oop en eerlik, met die nodige groei in selfbewussyn, voor die Here te staan sodat Hy die soeklig op jou gemoed en lewe kan aanskakel. Hierdie gebed gaan ook gepaard met ‘n eerlike luister na die mense naaste aan jou. Vra vir hulle wat hulle by jou beleef en doen dan aktief iets hieraan. Gaan sien ‘n vriend, wat saam met jou kan bid. Skraap die moed bymekaar om ‘n afspraak met ‘n goeie sielkundige te maak.


Ek dink aan Jesus, wat so eerlik was oor sy eie stres en angs net voor die kruisiging. In Matteus 26:38 pleit Hy onomwonde:


Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.

Dalk moet ons, wat in Jesus se voetspore volg, ook die nederigheid aanleer om hierdie woorde te uiter.

ความคิดเห็น


bottom of page