Kyk anders, glo reg
top of page

Kyk anders, glo reg


Hoe kan om ander te kyk ons reg laat glo? Lees hoe Stephan Joubert ons help hiermee in sy nuwe Goeie Nuus.
Kyk anders, glo reg

Rondom 1847 was Ignaz Semmelweis ’n dokter in ‘n Weense hospitaal, waar bykans 10% van die vroue in een kraamsaal aan infeksie gesterf het. Toe kom hy agter dat mediese studente, wat daar opgelei word, eers disseksies doen as deel van hul opleiding in anatomie, voordat hulle met bevallings gaan help. Sy gevolgtrekking was dat hulle bakterieë oordra, omdat hulle hande nie deeglik genoeg ontsmet was nie. Toe hulle dít begin doen het, was die sterftesyfer in die kraamsaal binne maande nul. Semmelweis het sy bevindings wyd en syd bekend gemaak. Niemand wou hom egter glo dat sulke streng higiëne nodig was nie. Uiteindelik is Semmelweis in 1865 in ’n gestig dood as ’n verbitterde man sonder dat mense hom ernstig opgeneem het. Eers na sy dood het sy teorieë wêreldwyd inslag gevind.


Indiwidue, soos Semmelweis, wat nuwe dinge raaksien, word nie altyd raak gehoor nie. Mense hou nie van verandering nie. Of van nuwe dinge nie. Vra vir Josua en Kaleb in Numeri 13. Hulle was deel van die 12 verspieders, wat die Beloofde Land moes gaan verken. Die ander tien verspieders was egter nie lus vir die nuwe land nie. Hulle het reuse probleme daar raakgesien. Die volk het saamgestem. Hulle wou terugkeer na Egipte. Josua en Kaleb het egter saam met Moses geglo daar wag ’n beter pad saam met die Here in die onbekende nuwe land. Hulle was reg, al was hulle nie gewild nie. Leer asseblief by hulle. Laat hulle jou mentors wees en nie al daardie kleingelowiges rondom jou, wat moed opgegee het met die lewe nie. Sien die Here op nuwe maniere en nuwe plekke raak, al doen jy dit alleen. Moenie aansteek by die hooploses nie. Moenie moedeloos word as niemand ander sien Wie jy raaksien nie. Volg jy net vir God. Hou aan om te doen wat reg is. Laat die oortuigingswerk oor aan die Here.

bottom of page