Kuns is ook een van God se stemme
top of page

Kuns is ook een van God se stemme


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor kuns wat soms gemis word as een van God se stemme.
Kuns is ook een van God se stemme

Daar word vertel dat ’n Nazi offisier een keer ’n besoek gebring het aan die beroemde kunstenaar Pablo Picasso. Dit was tydens die Duitse magte se besetting van Parys gedurende die tweede wêreldoorlog. Hy was gefassineer deur Picasso se “Guernica.” Dit is ’n skildery wat die lyding van mense en diere in hierdie Spaanse dorp uitbeeld na afloop van ’n Duitse en Italiaanse bombardement. “Is dit jou werk?” het die offisier vir Picasso gevra. “Nee, dit is julle werk!” het Picasso dadelik geantwoord.


Kuns is inderdaad ook een van God se stemme. Verbeeldingryke kunswerke het die vermoë om ons aandag op verrassende maniere te fokus op God se waarheid. Gedigte, literatuur en verskeie ander vorme van kreatiewe kuns doen dieselfde. Gelowiges wat nie ingestel is op sulke kreatiewe kommentaar op die realiteit nie, mis uit. Geloofsgemeenskappe wat ook nie ruimte skep vir mense se skeppende vermoëns om God se koninkryk na buite toe te laat gebeur nie, raak irrelevant. Hiervan gepraat, jyself is ook kunstig. Ja, jy is! God het jou geskep om kreatief te wees. Moenie dit wegsteek nie. Gebruik jou vaardighede en talente om Hom te verheerlik en om mense se verbeelding Christus-waarts te draai.

bottom of page