Krag vir daardie groot moegheid
top of page

Krag vir daardie groot moegheid


Die lewe het nogal ‘n manier om krapmerke op jou liggaam en jou gees agter te laat. Jy kom dit op verskillende maniere agter. Jou lyf kreun en kraak al hoe meer terwyl die lewensjare meer word. Jy herstel nie so vinnig soos altyd na ‘n groot siekte nie. Jy beweeg ’n klein bietjie stadiger. Dit voel ook of jou geheue jou te veel kere in die steek laat. Tog gebeur dit nie net met mense wat ouer word nie. Jesaja 40 vertel vir ons dat selfs die jongmanne moeg en afgemat raak. Moegheid is ‘n normale realiteit. Dit is deel van die gejaagde lewe, waarbinne ons onsself bevind. Uitbranding, oorwerktheid en stres is te veel mense se metgeselle. Jonk en oud beleef harde myle in ons kop onderstebo wêreld. Jonk en oud raak moeg en uitgeput. Maar in die Here se teenwoordigheid het ouderdom en moegheid nooit die laaste sê nie. Daarom moet ons mooi luister na dit, wat Jesaja verder skryf in hoofstuk 40: “Diegene wat op die Here wag, kry nuwe krag.” Die harde uitdagings van die lewe is nooit die wenners in die Here se omgewing nie. Lewensmoegheid wyk altyd voor die Here.


In God se nabyheid wag daar altyd nuwe krag. In Sy omgewing is daar altyd herstel. Vars, nuwe lewe is die geskenk aan elkeen, wat by Hom skuil. God Self herlaai Sy kinders se geloofsbatterye. Hy tel vermoeides op. Hy ontferm Hom oor uitgebrandes. Hy dra mismoediges se laste. Hy dra siekes op die hande. Al is ons kragte min, is die Here se goedheid steeds ons anker. Ons vind altyd rus in Hom. Hy is altyd naby, ook as die lewe dreig om ons onderstebo te hardloop. Beleef dit opnuut. Kom tot rus aan Sy voete, want diegene wat op die Here wag, kry altyd nuwe krag.

bottom of page