Konflik, Blou Sones en Rooi Sones
top of page

Konflik, Blou Sones en Rooi Sones


Konflik en die hantering van konflik is deel van ‘n leier se roeping. Trouens, indien jy ‘n konstante konflikvermyder is, dan mag leierskap dalk nie vir jou wees nie. Dis te verstane, want transformasieleierskap bring gewoonlik weerstand en ongelukkigheid, omdat dit van mense vra om te verander en verandering skep die belewenisse van verlies. Konflik is egter nie so maklik om te navigeer nie. Boonop verloor ‘n mens maklik perspektief midde-in konflikprosesse, omdat dit so persoonlik en emosioneel gelaai kan wees. In hulle boek oor konflikhantering by leierskap, verwys Jim Osterhaus, Joe Jurkowski en Todd Hahn na Rooi Sones en Blou Sones as ‘n kaart vir die verstaan en hantering van konflik.


Volgens die skrywers moet leiers poog om, wanneer die konflikhitte hoog is, te reageer en besluite te neem vanuit Blou Sones. Vir die meeste mense en organisasies is dit egter meer natuurlik om vanuit Rooi Sones te reageer. Dit gebeur, omdat mense reaktief is en nie bewus is van ‘n beter moontlikheid om die proses te bestuur nie.


Rooi Sones:


Wanneer ‘n groep hulleself in ‘n Rooi Sone bevind, is die atmosfeer gewoonlik emosioneel gelaai en dikwels is die oorsaak ook emosioneel van aard. Die aard en oorsprong van die konflik is gewoonlik persoonlik en die meeste mense wat betrokke is, het gewoonlik ‘n redelike lae selfbewussyn (self-awareness). Die konflik ontstaan, nie noodwendig omdat mense oor waardes verskil nie, maar veral omdat persoonlikhede bots en omdat die groep se volwassenheid nie baie hoog is nie. Heel dikwels het dit ook te make met onverwerkte emosionele bagasie in die stories en gemoedere van die persone betrokke. Die emosionele intensiteit is gewoonlik buite proporsie en oordrewe vanweë die feit dat alles subjektief beleef word. Die konflik is onoplosbaar in so ‘n omgewing, veral omdat mense nie verby hulle eie behoeftes en persepsies kan kyk nie. It’s all about me.


Elke groep mense in ‘n Rooi Sone moet dus poog om vanuit ‘n Blou Sone op te tree of begelei word na ‘n Blou Sone.


Blou Sones:


Wanneer dit kom by Blou Sones, kan die konflik ewe ernstig wees. Wat dit egter anders maak, is dat die oorsaak van die konflik gewoonlik ‘n verskil oor waardes is, nie persone nie. Dit handel dus hier oor sake en nie mense nie. ‘n Verdere kenmerk van die groei wat by Bou Sone-mense plaasgevind het, is dat hulle baie meer selfbewus (self-aware) is as mense in Rooi Sones. Hulle is uiters bewus van hulle eie vooropgestelde idees, hulle voorheen onbewuste emosionele commitments (wat hulle opinies beïnvloed), asook die emosionele impak, wat hulle optrede en sienings op ander kan hê. Die intensiteit van reaksies is proporsioneel gepas met betrekking tot die sake, wat hanteer word asook die volwassenheid in die groep. Dis nie buite verhouding in so ‘n mate dat dit destruktief is nie. Omdat daar dus ‘n nugterheid openbaar word, is die probleme nie onoplosbaar nie en kan daar by oplossings uitgekom word. Daar heers ‘n algemene optimisme en ‘n can-do gesindheid, wat veroorsaak dat die sake hoopvol aangepak word. Mense beskik oor die vermoë om verby hulle eie perspektiewe en behoeftes te kyk en die groot saak van die Koninkryk van God raak te sien. It’s all about the mission.


Blou Sone-besluite


Wanneer ‘n mens jouself in ‘n konfliksituasie bevind, moet jy perspektief kan behou. Hierdie perspektief word waargeneem in die feit dat die besluite, wat geneem word, wanneer die hitte hoog is en opinies verskil, steeds gedryf word deur die waardes van die maatskappy en nie deur emosies en manipulasie nie. Dit kan gedoen word deur veral vyf vrae in gedagte te hou:

  1. Watter soort besluit gaan ons missie bevorder?

  2. Watter beginsels is hier ter sprake?

  3. Aan watter waardes is ons besig om uitdrukking te gee deur hierdie besluit?

  4. Watter ongemak of pyn gaan ons moet kan verduur as gevolg van die besluit?

  5. Hoe gaan ons diegene ondersteun, wat verlies gaan beleef as gevolg van ons besluit?

Hierdie vrae neem die realiteite van persoonlike ervaring asook die pyn en gevoel van verlies wat sommige mense kan beleef as gevolg van die besluite wat geneem word in ag. Vrae 2 - 5 staan egter in diens van die eerste vraag: Wat bevorder die missie van die kerk / organisasie? Gesonde stelsels neem besluite, wat die lewensdoel en -missie van die organisasie bevorder. Dit sal egter weerstand veroorsaak by sommiges. Weerstand gaan hoogs waarskynlik omskakel in konflik.


Dan moet leiers seker maak dat die proses van konflikhantering duidelik en sekuur afstuur op die Blou Sone.

bottom of page