Kompleksiteit vra vir verdraagsaamheid
top of page

Kompleksiteit vra vir verdraagsaamheid


Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld nuusbrief oor kompleksiteit wat vra vir verdraagsaamheid
Kompleksiteit vra vir verdraagsaamheid

As daar een ding is wat hierdie afgelope klomp maande vir ons duidelik geword het, dan is dit hoe kompleks die wêreld geword het. Selfs in die tagtigerjare het mense al gepraat van die “VUCA”-wêreld waarin ons onsself bevind. Soos voorheen genoem, is VUCA ‘n akroniem vir “Volatile, Unpredictable, Complex, Ambiguous”. Dit beteken dat dit uiters moeilik is om volkome betroubare standpunte te bekom of te formuleer, veral wat praktiese lewenssituasies betref. Die rede is die geweldige kleurryke verskeidenheid van opinies, wat finale gevolgtrekkings so ingewikkeld maak. Wanneer dit egter kom by die waardes en beginsels waarvoor ons staan, behoort dit makliker te wees om te onderskei. Almal van ons glo byvoorbeeld dat welwillendheid ‘n deurslaggewende waarde behoort te wees. Hoe om egter te bepaal wat presies die mees welwillende keuse is om in elke omstandigheid uit te oefen, is vir die meeste mense, op ‘n gegewe oomblik, nie so eenvoudig nie. Moet ons ons laat inent of nie? Het die vaksinemaatskappye verskuilde agendas of is hulle motiewe suiwer? Moet ons nebuliseer, wanneer ons Covid-simptome toon of nie? Moet ons die regering profeties aanspreek of moet ons hulle vertrou? Is ons land se inperkingstrategie die mees gesonde uitweg of skuil daar iewers ‘n beter een? Moet kerke oopmaak ter wille van mense se geestelike welstand of moet hulle deure ter wille van die gemeenskap se gesondheid geslote bly? Moet ons dankbaar wees vir die morele groei wat Covid na die wêreld toe gebring het of moet ons hartseer wees oor die skade? Moet ons rou of moet ons bly wees ten spyte van die lyding? Wie se stemme moet ons vertrou in ons poging om ‘n suiwer en betroubare opinie te vorm?


So kan ons aangaan.

Wat my verder verstom in hierdie onseker en onvoorspelbare tyd, is hoe seker die meeste mense van hulle eie oortuigings skyn te wees, of hulle nou die konsensus aangaande ‘n bepaalde saak verteenwoordig, of ‘n eensame stem op die kantlyn is. Hierdie sekerhede gaan gewoonlik gepaard met diep emosies en irritasie jeens die ander. Hoe moet ‘n Jesus-volgeling hieroor dink? In verband hiermee kan ‘n mens weereens heelwat by Paulus leer. Hy skryf in Romeine 14:1-3 die volgende:


Aanvaar die een, wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. Een glo 'n mens mag alles eet; 'n ander is swak in die geloof en hy eet net groente. Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.


In hierdie hoedanigheid kan ons onsself ten minste twee dinge voorneem:


1. Weerhou jou van meningsvorming so lank jy kan. Dit sluit openbare oordeel oor ander se opinies in. Dit kan nogal riskant wees om te vinnig tot ‘n sterk opinie in ‘n stormagtige tyd soos hierdie te kom, waar die jurie nog oor baie sake met beslis, navorsing nog voortgesit word en nuwe standpunte nog daagliks gevorm word, terwyl gister s’n verouderd is. Luister eerder mooi na al die kante. Luister na die stemme, wat getuig van redelikheid, integriteit en waardigheid. Leer wysheid aan en oefen jouself om fyn te onderskei.


2. Wees verdraagsaam teenoor mense, wat anders as jy dink. Ons moet almal menswaardig hanteer en deel daarvan is om mense toe te laat om hulle opinies te vorm en hulle eie keuses te maak. Ons kan nie vandag bekostig om verdeeldheid te saai bloot omdat ons standpunte van iemand anders s’n verskil nie. Laat mense régtig in jou hart toe om hulle eie standpunt te huldig, al dink jy dis simpel. Vandag se simpel stelling is dalk môre se wysheid. ‘n Mens weet nooit nie.


3. Laat Jesus ons eenheid wees, nie ons standpunte nie. Jesus is sterk genoeg. Hy hou immers die kragte en teenpole van die ganse lewe elke dag bymekaar. Hy kan ons verenig en ons in verhouding met mekaar hou, al verskil ons sienings oor inentings of politiek. Die diepste soort waarheid is die soort Waarheid wat Hy is, nie die waarhede aangaande Covid nie. Dat Jesus ons in Sy waarheid lei, beteken nie dat ons ewe skielik sal saamstem oor al die detail nie. Dit beteken wel dat ons almal, wat glo, deel van dieselfde familie is, dat ons dieselfde Vader het en dat ons in liefde kan saamleef. Dit beteken ook dat ons met mekaar kan praat en na mekaar oor ons verskille in standpunte kan luister en dalk op hierdie manier tot beter kennis van medisyne en virusse kom.


bottom of page