Kersfeesliggies – Christus-lig
top of page

Kersfeesliggies – Christus-lig


Kersfeesliggies is baie belangrik hier in die Noordelike halfrond, waar die wintersaande lank (en koud) kan wees. Dit was dus hartseer nuus toe die leier van die Medway Council onlangs moes aankondig: “Unfortunately due to the challenging financial situation the council is in, we have had to make the sad and difficult decision to not have Christmas lights across Medway this year. This means there will sadly be no switch-on events held in the town centres this year.”

 

Die wêreld kan so mooi fees vier met lig – van die fynste fairy lights tot asemrowende laservertonings. Net so kan ek, wanneer omstandighede maklik en lekker is, straal van opgewondenheid en blydskap. Wanneer omstandighede egter ‘n ander wending neem, daal of ‘n donker swaarmoedigheid of die onweerswolke van ‘n dreigende woede-uitbarsting oor my. Die enigste lig, wat dan sigbaar is, is dalk die ontstellende klap van ‘n woedende “weerligstraal”. Dit sal werklik hartseer wees as ek moet aankondig: “Ek is nou so kwaad / bekommerd / ontsteld dat daar nie energie oor is om iets van Jesus se lig in my lewe sigbaar te laat wees nie.”

 

Dis baie veiliger as ek liewer soos Johannes die Doper besef dat, al is ek self nie die lig nie, ek tog van die ware Lig (Jesus) kan getuig. (Johannes 1:58, 59.) Johannes herinner ons ook daaraan dat Jesus gesê het: “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Johannes 8:12 NLV)  

 

Terwyl tyd in Sy Woord spandeer, sal ek Hom beter leer ken. Ek sal leer hoe om Sy lig in alle situasies, waarin ek my bevind, te weerkaats. Ek sal leer hoe om geestelik “asem te haal”. om, sodra die Heilige Gees my bewus maak van die donker van sonde in my lewe, dit te bely en Hom opnuut toe te laat om my in staat te stel om ‘n lewe te lei wat Jesus se lig weerkaats. 

 

My poginkies mag dalk ‘n flou namaaksel van Sy suiwer hemelse lig wees, maar kan mense om my tog herinner aan Hom wat die Lig van die wêreld is. 

bottom of page