Kersfees is nie altyd ’n mens se speelmaat nie
top of page

Kersfees is nie altyd ’n mens se speelmaat nie


Kersfeestyd is vir baie mense gelyk aan spandeertyd. Dan loop al daardie swaarverdiende geldjies soos stroop. Vreesloos bestorm mense die winkels asof dit die laaste keer is dat hulle dit ooit sal doen. Terwyl kasregisters op die maat van bekende Kersfeesmusiek oortyd werk, is mense in ’n kooplustige bui. Elke jaar gaan dit so. Elke jaar waarsku party predikers ook teen ’n “wêreldse" Kersfees. Party ander gaan selfs jaar na jaar so ver om te sê ons moenie eens hierdie fees vier nie.


Hoe mense ook al oor Kersfees dink, ons weet minstens dat 25 Desember nie Jesus se aardse geboortedatum is nie. Hierdie dag is wel die dag waarop Jesus se koms regdeur die eeue gevier word. In die Romeinse Ryk was dit die gebruik om in hierdie tyd die songod se oorwinning oor die donker te vier. Toe besluit gelowiges in die vroeë kerk om hierdie fees met nuwe inhoud te vul. Toe kies hulle om die koms van Christus as die ware Lig na die wêreld toe op 25 Desember te vier. Praat van vernuwing! Die vroeë Christene was nie lamgelê deur ’n heidense fees, wat almal rondom hulle gevier nie. Hulle het gekies om Jesus se koms in hierdie tyd vars en nuut te herdenk. Kom ons leer by hulle. Kom ons hou ons oog op Jesus in hierdie dae en staar onsself nie blind teen die kommersialisering van Kersfees nie. Kom ons wees opnuut bly dat Jesus gekom het. As Sy navolgers weet ons immers dit gaan in hierdie dae, asook in die res van die jaar, oor Sy koms na ons toe. Daarom word ons lewens gekenmerk deur vrygewigheid en omgee. Jesus se roete van opoffer en dien is ook ons s’n. Sy hart klop in ons binneste. Daarom loop ons hier in Kersfeestyd op nuwe paaie van mededeelsaamheid. Daarom vier ons ’n geseënde kerkfees saam met Jesus as ons Here en ons Eregas.

bottom of page